top of page
  • Uitmelkbos

OOR SPIOENE EN ANDER GEHEIME


In Januarie 1983 verskyn die nuwe besturende direkteur van Naspers, Ton Vosloo, sy vier koeranteredakteurs en die politieke redakteur van die groep een oggend geheimsinnig op Uilenskraalmond se strand by Franskraal. Die redakteurs is Wiets Beukes (Die Burger), Willem Wepener (Beeld), Hennie van Deventer (Die Volksblad) en Chris Moolman (Oosterlig). Die politieke redakteur is Alf Ries, alombekend as doyen van die persgalery van die Volksraad.

Die meeste van die manne stroop hul hemde, duik in die branders, plas en jil. ‘n Ander gedaante kom meteens met water wat uit sy hare drup uit die branders te voorskyn. Dit groet oor en weer. Later stap die Naspersmanne en die onbekende nuweling gesels-gesels uit die branders. Op die strand gryp elkeen sy handdoek om af te droog, maar die gesels duur voort. Lyk soos ‘n lang agenda …

Het ek gepraat van ‘n “onbekende”? Wel, dis nie heeltemal waar nie. Onbekend was Niel Barnard, Suid-Afrika se jong spioenbaas allesbehalwe. Al was die skemerwêreld van die Groter Politiek sy werkterrein, is sy aanstelling wyd uitgebasuin – hoogleraar in staatsleer (meen ek) wat deur P.W. Botha met die hand uitgesoek en by Kovsies gaan haal is om die Nasionale Intelligensiediens te lei – iets wat hy lank en met onderskeiding gedoen het.

Daardie oggend het Alf Ries foto’s geneem soos die een hierbo: Moolman, Wepener, Vosloo, Van Deventer, Beukes in hul baaiklere. Hoekom Niel nie saam met ons afgeneem is nie, kan ek nie onthou nie. Dalk wou hy nie. So ‘n foto sou verleentheid kon wek, het hy dalk geredeneer: NI se topman met die leiergroep van die Afrikaanse koerante op ‘n verlate strand op ‘n Saterdagoggend!

Daardie verleentheidspotensiaal is ook deur ons persmanne later besef. Ons het oor ‘n bier of twee om die vleisbraaivuur by Wiets en Alf se vakansiehuis (waar ons sommer die naweek na die Parlementsopening kom lekker kuier het) daaroor saamgelag, en in ons verbeelding die foto plus prominente berig oor ons “secret meeting” op die “Sunday Times” se voorblad gesien.

Die ontmoeting met Niel was inderdaad absoluut ongeskeduleer. Die Barnards het in daardie stadium ‘n vakansiehuis naby Gansbaai gehad – het dit dalk nog. Ons het bloot op dieselfde tyd op dieselfde dag op dieselfde strand behoefte aan son en seewater op ons lywe gehad.

Geen geheim aan daardie ontmoeting nie, ongelukkig.vir diegene wat my kom vra het n.a.v my Ton-en-FW-blog: “Vertel ons nog ‘n paar geheimpies toe!”

“Geheime” ontmoetings met Niel Barnard was daar later tog wel. Ek onthou ene by Ton se destydse woning in Wynberg met die interessante naam “Spyglass Hill”. Ebbe Dommisse het toe al by Die Burger by Wiets Beukes oorgeneem, as ek reg onthou. Daardie dag het ons by ‘n vuurtjie groot dinge gesels, soos oor die gesukkel om Suid-Afrika op die pad van groter geregtigheid vir almal te kry. Niel het ons ingelig oor klandestiene inisiatiewe rondom Nelson Mandela, en nog die vrees uitgespreek dat die man se enkels so dik gewel is; hy vrees hy kan in die tronk iets oorkom! Dit was 20 jaar gelede.

Dalk tog wel ook ‘n “geheimpie” wat ek kan uitlap, is die doen en late een aand in die eerste “Beeld”-jare in Johannesburg waar Ton toe redakteur en ek nuusredakteur was. Ons het daardie tyd soms gevoel of ons dag en nag werk – maar het darem nie elke dag en nag net gewerk nie. Ons kon ook partytjie hou vir die eerste span.

Die moeder van alle partytjies van “Beeld” se eerste jare het in die raadsaal begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton sy sekretaresse, Gerda Pienaar, aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.

Feitlik die hele hoofredaksie — Ton, ek, Salie de Swardt en Twakkies Laubscher — asook senior redaksielede soos David Moolman en Piet Gouws, ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis) en die twee sekretaresses, Gerda Pienaar en Ina le Roux, het gaan aansit.

Daarna het ons gaan “koffie” drink by Ina se woonstel in Bedfordview, waar dit laat begin word het. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was na ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank voortgewoed..

Ai, goeie ou dae! Moet Ton tog aan sulke insidente herinner as ek hom Saterdag bel om vir hom op sy 75ste geluk te wens.

7 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page