top of page
  • Uitmelkbos

Oor braaie en beterweters






Die Kaapse braaiseisoen breek glo hierdie week aan, volgens een of ander wyse wat almanak-speletjies speel. Wat my en myne betref, is dit maar altyd braaiseisoen. Braai is iets vir alle seisoene. Punt.


Braaiseisoen gaan natuurlik dikwels aan hand met ooreet-seisoen. Dit doen party van ons ook al vier seisoene. Charles Dickens het mos al gesê: “Subdue your appetite, my dears, and you’ve conquered human nature.” Watter loflike insig in die menslike natuur!


Van wye manne gepraat: Ene David Garrick het ‘n slag iets kwytgeraak wat nogal soms in die braaiseisoen ‘n sekere waarheid bevat. Ek vertaal dit in Afrikaans soos volg: “Goeie vleis kom uit die hemel. Vrot braaiers word deur die duiwel op ons afgelaai.” Stry?


Oor slaai laat die spraaksame mnr. Garrick hom nie uit nie. Ek het minstens een Melkbosse vriend, ’n baasbraaier, Sakkie Bruwer, wat egter saam met Samuel Johnson glo: “A cucumber should be well sliced, and dressed with pepper and vinegar, and then thrown out as good for nothing!” Ter wille van vrede hou ek hieroor my bek.


Een geheim van ‘n vreedsame braai is natuurlik dat gaste ook hul bekke oor die gasheer se braaiery hou. Hou sommer julle pote ook tuis, asseblief!


Oor hierdie netelige onderwerp het ek my hand aan ‘n versie gewaag. Die titel is Braai-beterweter.


Hier’s hy:


Koes, of ek gooi jou

met ‘n halfgaar wors,

keer vir die braaivurk

in jou rug of jou bors;

vlieg in jou maai in,

jou gatvliegt-maaier –

jy weet altyd beter

as die rêrige braaier!


Miskien moet iemand begin om lekker braaistories te versamel. Daar moet honderde wees. Hier is my bydrae:


Dudley Honey, ’n prokureur, was in 1991 gasheer vir die Kersbraai van die Bloemfonteinse Vrydagklub. In sy blink swart Weber-braaier was ’n gestopte kalkoen wat bestem was om ’n uur of drie later goudbruin op die tafel te kom. In ’n stadium stap hy huis toe om die een of ander takie te verrig. Toe tree Ewald Fichardt doelgerig vorentoe. Hy lig die deksel. En pleeg toe gewetenloos ’n onheiligheid wat ’n toegwyde braaier se hart sommer stuiptrekkings sal gee.


Honey keer niksvermoedend terug, leë glasies word opnuut gevul en die gaste staan doodonskuldig waar hulle gestaan het. Botter sal in geeneen se mond smelt nie. Ná ’n ruk kry die braaier se nuuskierigheid die oorhand. Hy lig die deksel net so ’n skrefie om die kalkoen se vordering waar te neem. Dit is asof ’n slang hom gepik het. Die deksel word hard toegeklap asof dit ’n spook binne moet hou. Die arme man steier terug, rooi soos ’n kalkoen; skok en ongeloof op sy verwarde gesig.


Twee, drie minute verloop. In dié tyd herwin hy sy selfbeheersing. Hy skraap ook genoeg moed bymekaar vir ’n “kyk weer”. Hy vat die deksel se handvatsel stewig vas en herhaal vaneffe se proses. Die nagmerrie duur voort. ’n Stuk sinistere sinsbegogeling was sy eerste waarneming ongelukkig nie.


Met die proes iemand. ’n Tweede val in, en die koor lagbuie is so luidrugtig dat dit nuuskierige toeskouers uit die kombuis lok. Honey besef skielik dat hy agter sy rug ’n yslike poets gebak is. Sy spogkalkoen is vervang met ’n maer wit langbeenbraaikuiken wat spesiaal vir die diaboliese daad by die Portugees op die hoek se kafee aangeskaf is! Uilskuiken! Al wat die slagoffer kon doen, was om kastig kwaad en beteuterd saam te grinnik. Gelukkig het die onderbreking nie die smaak van die kalkoen nadelig beïnvloed nie. En die braaikuiken? ’n Kersbonus vir die gesin se dankbare honde.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page