top of page

OOR BOEMELAARS EN BROOD OP DIE WATER

Uitmelkbos




Herman en Rina le Roux in Maart 2008 in Sabiepark

Boemelaar-stories gryp mense dikwels aan, waarskynlik weens die wete: was dit nie vir die genade van die Vader nie, kon dit ek gewees het daardie – “for the grace of God there goes I.”


In matriek in 1957 het ek trouens tot die jaarblad ‘n stuk bygedra oor ‘n denkbeeldige reünie jare later. Advokate, dokters, suksesvolle sakelui, Springbokrugbyspelers en sulke snare staan, drankie in die hand, en ginnegaap. Skielik daal ‘n stilte. ‘n Versukkelde ou boemelaar skuifel met neergeslane oë by die deur in. Dis ekke … Hennie van Deventer.


Nou-ja. Gelukkig het ek toe darem nie ‘n boemelaar geword nie. So ver ek weet, het daardie lot ook geeneen van my destydse klasmaats getref nie. Die “dice” kan egter maklik vir iemand verkeerd val. Die broer van ‘n prominente senior student uit ‘n goeie plaashuis uit wat nou Limpopoprovinsie is, het in my Tukkiedae byvoorbeeld op ‘n dag net die pad gevat. Hy het nooit weer tot sy ou lewenswyse teruggekeer nie.


Wat my op hierdie mooi sonskyndag op Melkbos aan boemelaars laat dink, is my vriend en oud-kollega Herman le Roux se stuk wat, terwyl ek op Buffelsbaai was, in Die Volksblad en in die rubriek My Storie op www.beeld.com verskyn het. As u dit gemis het, gaan lees dit gerus by bogemelde skakel. Die titel is: Jy het iets mooi oor my geskryf.


In kort is dit die storie van die boemelaar “Andries” met ‘n welige grys baard en verslonsde klere wat ‘n verbaasde Herman in Sedgefield bydam met die woorde: “Jy is mos Herman? Jy het jare gelede iets mooi oor my in Die Volksblad geskryf…”

“Andries” deel toe mee: “Ek wil net vir jou sê ek het vir die Vrystaat se onder 19-span rugby gespeel en jy het geskryf die ‘lang, lenige losskakel was die uitblinker.’ ”

Dit was 45 jaar gelede, maar daardie pluimpie het vasgesteek!

Herman, ‘n oud-sportredakteur van Die Volksblad en later Beeld, se storie maak nog verskeie verrassende kinkels en draaie. Ter wille van lesers wat dit al elders onder oë gehad het, gaan ek nie voor die versoeking swig om die hele sak patats weer hier uit te skud nie.

Ek het egter twee kommentare, die eerste oor boemelaarstories en die tweede oor Herman le Roux.

Veral een boemelaarstorie het my tot nou toe diep getref. Dit is deur Madeleine van Biljon, die boekevrou, self op skrif gestel. Ek noem dus vrymoedig haar naam en die feit dat dit haar verlore seun was wat een winteraand bel en haar vra om hom iewers te ontmoet.

Sy haal ‘n taxi, kry hom op die afgespreekte plek en verneem deur hoesbuie sy hortende storie van waar in die ooptes hy die uiters onplesierige Kaapse winter deurbring.

Sy pleit hy moet saam huis toe, maar hy skop vas. Sy “huis” is nou een van Nuweland se paviljoene (as ek reg onthou). Later trek sy haar warm baadjie uit en oorhandig dit aan hom. Hy wil eers teenstribbel, maar aanvaar die baadjie tog dankbaar, en verdwyn in die nag.

Die volgende dag kom die nuus: hy is daardie nag oorlede.

Dis ‘n storie wat sterk manne sal roer. Herman se storie, wat darem ‘n gelukkiger einde het, sal ek voortaan egter ook by my onthoustories oor boemelaars voeg.

Oor Herman is my kommentaar dat hy seker die grootste mens-mens is wat ek ken. Soos hy (en sy vrou Rina) vriendskappe vertroetel, is ‘n openbaring. Om van die Rand Kaap toe te ry vat vir hulle soos in die tyd van kar-en-perde dae en dae, want oral is vriende om by aan te ry

Geen wonder nie dat sy “Andries”-storie wyd reaksie uitgelok het. Vriende en kennisse van selfs oorsee (Kiev in die Oekraïne, die VSA, Duitsland en Nieu-Seeland) het van hulle laat hoor. ‘n Ou wat beweer dat hy byna 50 jaar gelede op Herman en Rina se troue gesing het, het ook gereageer, hoor ek maar so deur my kanale.


Die predikant wat hulle in 1959 op Frankfort getrou het, het glo die sanger (‘n familielid van hom) aanbeveel. Herman het gedink dit is Willem van Tonder, maar die ou sê hy is Wim Bosman. “Wie is ek om te stry?” was Herman se lakonieke kommentaar.

Ten slotte: Herman gedy daarop om mooi dinge van mense te sê. As joernalis was dalk sy grootste kenmerk ‘n sagte, wellewende pen – anders as my eie wat kon gesel en wond, en wat vir die goeie Herman dikwels tot pyn was, weet ek.

Dat “Andries” 45 jaar lank Herman se woorde in sy hart bewaar, sê dus iets van albei. Ek is bly oor daardie joernalistieke brood op die waters wat op so ‘n mooi manier na my ou vriend teruggekeer het. Hy verdien dit.

6 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page