top of page
  • Uitmelkbos

OOM BAFFIE SE BOEK

Iewers in my koerant-anekdotes het ek die storie opgeteken van Oom Baffie Coetzee, laerskoolhoof van Ficksburg, amper lewenslange korrespondent van Die Volksblad op daardie mooi Oos-Vrystaatse dorp, wat altyd met meer toewyding en entoesiasme as bedrewenheid alles wat in sy domein gebeur vir Die Volksblad afgeneem het.

Oom Baffie se negatiewe was meesal oorbelig; dikwels onbruikbaar oorbelig. Hy het altyd geglo dis vrot donkerkamerwerk se skuld.

In die jare 70 vra ek, die nuusredakteur, ons hooffotograaf, Lappies Labuschagne, om Oom Baffie in my kantoor met die kamera te kom touwys maak.

“Watter knoppies druk jy, Oom Baffie?” wil Lappies by die gefrustreerde Ficksburgse kor weet.

“Ek druk die regte knoppies,” antwoord hy streng.

Jare later, in die 90’s toe ek al in my laaste pos by die Pers in die Kaap was, lees ek in Die Volksblad van een of ander baken wat oom Baffie bereik het: 80 jaar oud, goue bruilof, so iets.

Ek bel hom ter wille van die ou dae en ons gesels heerlik. Hy vertel my toe hy het sy lewensverhaal op daardie nuwerwetse ding die rekenaar neergepen. Toe hy net mooi klaar is, druk hy ‘n knoppie om alles netjies te bêre. Hy druk die verkeerde knoppie. Sy vinger dwaal na “delete” pleks van “save”.

Woerts is Oom Baffie se hele lewensverhaal iewers die ontsaglike kuberruim in! Vir altyd verlore.

My sogenaamde “welvaartbestuurder”, Jaap Duvenage – “welvaart” beteken maar net dat hy die man is wat na my swaar verdiende pensioengeldjies moet omsien – vind die storie van die verkeerde knoppie om die een of ander rede buitengewoon snaaks. Hy lag sy dawerende, wellewende lag telkens dat die trane rol.

Wel, Jaap, ek het vir jou nuus. Uit Oom Baffie se pen is wel minstns een boek op die rakke. Ek het ‘n eksemplaar in Sabiepark ontdek in ons informele bibliotekie waar jy kan boeke los en vat soos jy wil. Oom Baffie s’n het ek om klaarblyklike redes vir myself “verduister”.

Die boek, Die Bobankers van Malieshoek, het in 1981 (nog die goeie ou tikmasjiendae) by die destydse Dagbreek-boekklub verskyn. Jy ontdek dadelik Oom Baffie se hand. Die held is ‘n onderwyser by ‘n eenmanskool. Ficksburg se ambagskool kom ter sprake. Ook skoolkwessies soos debatte, rugby, dissipline, ens. En boerderykwessies soos goeie buurskap en droogtes.

In die rolverdeling is egter ook guitige nooientjies. In die blaaie van die boek kom selfs ‘n kritieke, ongewenste swangerskap voor, wat ek nooit met Oom Baffie sou vereenselwig het nie.

Trouens, voor in Oom Baffie se boek het ek geskryf:

“ Ai, Oom Baffie!

“ Wie sou ooit kon raai dat sulke aardse dinge in dié eerbiedwaardige ou heer se hart leef?

“ Oom Baffie was hoof van die primêre skool op Ficksburg en dekades lank Die Volksblad se kor op die dorp. Sy lewensverhaal is later op ‘n rekenaar verewig – en summier uitgewis toe hy die verkeerde knoppie druk. (HvD, 7/4/2011).”

Skielik wonder ek egter of my inskrywing nie eerder ‘n verheerliking van die tikmasjien moet gewees het as ‘n verwondering oor Oom Baffie se verbeeldingsvlugte nie.

Oom Baffie se boek is immers die produk van ‘n feit wat soos ‘n paal bo water staan: dat in die dae van die betroubare tikmasjien nog nie iets soos ‘n verkeerde knoppie was wat al jou moeisame arbeid in ‘n vlietende moment ongedaan kon maak nie – maar dan, aan die ander kant, natuurlik ook weer nie eenvoudiger digitale kameras wat die einde van negatiewe gebring het nie!

Heil die tikmsjien, maar ook die digitale kamera (sonder negatiewe)!

Ek wag dat Jaap in Sabiepark kom kuier om hom Oom Baffie se boek te wys. Wonder of ek dan weer daardie gul Duvenage-lag gaan hoor, en wat daardie lag in die heersende omstandighede sal beduie

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page