‘n Stoelkussing in ‘n boom vertel sy eie storie.
Vrae maal vanoggend in die kop oor gister se ontsettende vloede wat die Wildtuin van die buitewêreld afgesny het. Het Lake Panic se damwal gebreek, soos ons “betroubaar” gehoor het? Is Skukuza ‘n rampgebied? Is van ons vriende dakloos? En ons eie Sabiepark: hoe groot is die skade? Word oewerhuise weer oorstroom soos in die Groot Vloed van 2000? Hoe flenters is ons skilderagtige piekniekplek?
Toe die eerste foto’s van ‘n siedende Sabie begin inkom – hoe vinnig kom hoeveel mense nie vinnig by krisispunte nie met hul kameras en selfone nie? – het my hart dadelik ‘n paar rukkie gegee. Want ek het Maandag 7 Februarie 2000 onthou; die onheilsdag.
Om ‘n samehangende prentjie van die omvang van ‘n vloed te kry, is nie maklik nie. Dit weet ek as joernalis maar te goed. Enorme skade lê soms lank onder slik en modder begrawe. Maar sulke magtige waters kan nie oor ‘n gebied spoel sonder om diep spore te laat nie. Dit weet ek ook. Dit maak my amper bang vir wat vandag gaan oplewer, more, oormore …..
‘n Honderdjaarvloed. So het ons gepraat van 2000 se Groot Waters, wat oral in die Wildtuin-kontrei nuwe vloedlyne, dramaties hoër as die voriges, gedefinieer het. Altesaam 1 280 mm het daardie somer uitgesak, ‘n rekord der rekords. Dis 225% bo die jaarlikse gemiddelde.
Honderd jaar? Dit was dalk te optimisties. Maar ek wil ook nie alarmisties wees nie. Laat ons hoop dit is hierdie keer minder erg. Vandag kan die prentjie al duideliker begin word…..
In elk geval, al wat ek met sekerheid weet waar ek vanoggend hierdie blog tik, is dat die Sabierivier op Maandag 7 Februarie 2 000 rasend geraak het. Sabiepark is in ‘n ommesientjie van die buitewêreld afgesny. Vyftien huise is deur die vloedwater ingesluk. Die piekniekplek is verwoes. Die wandelpad is van die aarde gevee. Die waterwerke, keerwal en wildheining het stuk vir stuk stroomaf verdwyn.
Sabieparkers, onder wie die bekende wildfotograaf wyle David Hughes en sy destyds nog dowe vrou, Carol, moes van hul huis se dak gered word.
“Auk, die water hy kom, hy kom. Hy loop, hy lóóp.” Die kostelike beskrywing van die waterwoede deur ‘n afgetrede veldwagter, ou Willie, het mense later laat glimlag. Maar, let wel, dit was agterna. Midde-in die vloed was nie vir glimlag tyd nie. Toe was dit doodsake.
Sabiepark self is dae lank volledig afgesny — geen toegang per pad nie, geen telefoon of selfoonsein nie, geen elektriese krag in die kantore nie. Eers ‘n week na V-dag, op Maandag 14 Februarie 2000, is Sabiepark se fakslyn herstel. Drie dae later bereik ‘n faksboodskap van Zeller eienaars. Die opskrif: Vloedramp — Februarie 2000: Sabiepark was “te midde (van) die rampspoedige wattermassa” en “geweldige skade” is aan die rivieroewer aangerig.
Ek en Tokkie draai op Maandag 13 Maart met angstige harte by Sabiepark se hek in om self te gaan kyk. Die ramp kry toe eers werklik ‘n skokeffek. Die piekniekplek is platgevee. Van ons skilderagtige wandelpad het niks oorgebly nie. Om by die oorstroomde oewerhuise van vriende te kom, moet jy voetjie-vir voetjie deur die donker modder ‘n weg baan. Dis soos makabere oorlogtonele wat hulle voor jou ontvou. Vuil gordyne wapper deur die stukkende ruite. Patetiese hopies meubels, beddegoed en kombuisware staan rond. Stoelkussings hang in bome. Hoog teen die smerige mure streep die vloedmerk.
In die Skukuza-personeeldorp – dalk nou weer die episentrum – is enorme verwoesting aangerig. Altesaam 61 huise het deurgeloop. Die skooltjie (waar al by geleentheid leeus op die stoep ‘n slapie kom vang het) het sy rekenaars, boeke en ander toerusting verloor. Sowat 150 mense — almal lidmate van die gemeente — was dakloos. Die kerk moes die eerste paar dae etes aan die vloedgeteisterdes verskaf.
“Ons het ‘n krisis,” het ons ds. Carl Louwrens oor die radio hoor se. Toe het ons die goeie mense van Skukuza nog nie so goed soos nou geken nie, maar ons harte het na hulle uitgegaan in hul nood.
Die volgende vakansie was ons terug. By Skukuza se kerk kry ons die laaste Sondag ‘n Kerkbode met ‘n pragtige stuk deur die boekeman Charles Fryer. Fryer se gevolgtrekking: “Die goue gloed van hoop glim tog deur die donker op donker van koerantnuus.” Hy haal ook die bejaarde skilder Robert Hodgins aan: “Dit is wonderlik om te lewe. Die bome gaan bot, al is ons omring deur rampe.”
Die bome gaan weer bot, al is ons omring deur rampe. Ja, selfs die seekoeie keer ook terug, soos ons self gesien het. Watter heerlike sekerheid om in jou hart te hê terwyl jy angstig sit en wonder … en vrees … en naels kou.
コメント