top of page
  • Uitmelkbos

OOIEVAAR IN DIE LANGPAD

Die gevleueldes is tot dusver afgeskeep in die reeksie oor ongewone foto’s uit die natuur se dierelewe.

Die Vyf Grotes, ja, hulle figureer sterk. Die Ses Grotes (voëls) – waar’s hulle?

Maar eers: omtrent almal ken die Vyf Grotes (of Groot Vyf): leeu. olifant, renoster, buffel en luiperd.

Wie weet aan watter voëls kom die eer toe om die lys van Ses Grotes (of Groot Ses) te haal. Hie’rs hulle: Witrugaaasvoël – Lappet faced Vulture Jagarend – Martial Eagle; Saalbekooievaar – Saddle billed Stork Gompou – Kori Bustard Bromvoël – Ground Hornbill. Pel se Visuil – Pel’s Fishing Owl

Hande op almal wat al ses al gesien het. My en Tokkie se hande kan nie opgesteek word nie, want ons soek nog die visuil – ‘n skaars meneer wat veral snags aktief is, en ook in ‘n beperkte gebied van die Krugerwildtuin, hoër op in die noordeliker atreke.

Anders as die Vyf is die Ses ‘n Krugerpark-skepping.

Die Vyf spruit eintlik uit die jagwêreld – jagters se begeerlikste trofees. Daarvandaan het dit oorgespoel na die toeriste-omgewing toe, en word die Vyf ywerig deur besoekers aan wildtuine met hul kameras “gejag”.

Die Ses is ‘n ietwat willekeurige samestelling van gevleueldes wat vir groot opwinding sorg, en wat lekebesoekers aan die Kruger bittergraag wil aftik op hul boekies.

Die foto van die saalbekooievaar in die langpad is Kersfees 2008 op pad na die Kersdiens in Skukuza geneem. Twee het op die Doispanepad rustig op die teer heen-en-weer geloop. Dié foto was al in, maar ek het vermoed ek sal bergewe word as ek hom weer gebruik.

Die blertse kleur aan sy bek maak die saalbek ‘n buitengewone vreugde om te sien.

Naskrif: Die ou bromvoëls (”wilde kalkoene”) is vir die uwe ‘n verrassing op die lys. Die storie is egter dat die voëlkenner Newman een nag, toe hy buite die park geslaap het, só deur die bromvoël se roepe bekoor is, dat hy lewenslank as voëlliefhebber gewen is. Die vreugde wat sy gesaghebbende gids vir generasies van voëlkykers besorg het, is dus tot die bromvoël se krediet, en verdien opsigself vir die ou lelik hoë eer.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page