top of page
Uitmelkbos

ONVERGEETLIKE VRIEND

In die koerantwêreld het ons gepraat van die “angle” of die “hoek” van ‘n storie. Dis die kapstok waaraan jy jou storie ophang: die enkele stuk inligting met die sterkste trefkrag. Om vandag hier by sy gedenkdiens die Sakkie Bruwer-storie te “skryf “, is nogal ‘n uitdaging. Soveel “angles” of “hoeke” bied hulleself aan dat jy amper magteloos staan voor die rykdom van keuses.

Kies jy sy weergalose entoesiasme vir sport – veral vir rugby?

Sy legendariese braaivernuf? Sy rol as verbeeldingryke sosiale kommandant van die Probusklub en al die heerlike uitstappies wat hy gereël het? Sy dae as potjiekoskoning by kerkbasaars in die goeie ou tyd toe die wyntent nog langs die vuurtjies opgeslaan was?

Sy liefde om by Food Lover’s Market te gaan snuffel en met die keurige bestanddele fynproewergeregte te berei?

Sy integriteit en sterk standpunte oor reg en verkeerd, hetsy in die politiek, sport of kerk – en sy uitgesprokenheid oor wat hy dink?

Sy trotse loopbaan in die versekeringsbedryf by Guardian en sy lewenslange kundigheid met syfers?

Sy menswees? Sy uiterste hulpvaardigheid en daar wees vir sy vriende, sy gasvryheid, gemoedelikheid en humorsin?

Sy blymoedigheid, veral ook nadat sy gesondheid begin kwyn het, en sy versiendheid om die regte skuiwe betyds te maak?

Oor elke aspek van hierdie veelkantige mens – groot van gestalte en groot van gees – kan jy ‘n selfstandige storie maak. Om in een huldeblyk aan die hele spektrum reg te laat geskied, is klaarblyklik onmoontlik. Dan sou ek moes vra dat almal asseblief hul horlosies afhaal en wegbêre. Vergeef dus maar die gate as ek net op enkele spitspunte fokus.

Ek het verwys na Probus, ‘n hegte klub vir afgetredenes waaraan Sakkie my ook in 1998 bekend gestel het. Die klub het ‘n spesiale ere-toekenning, die Honoris-oorkonde, waarmee hy baie suinig is. Net drie is na my wete nog toegeken. Die standaarde is dus hoog. Dit sal niemand verras nie dat een van daardie drie aan Sakkie en Helmien gegaan het.

Dit is in 2007 toegeken vir “voortreflike diens en ‘n uitsonderlike bydrae tot die kameraderie en vreugdevolle samesyn van Probuslede en hul gades oor baie jare.”

Kameraderie en vreugdevolle samesyn. Dit is die sleutelwoorde. Waar Sakkie was, was kameraderie. Waar hy was, is vreugdevol saam verkeer. Of dit nou op Melkbos was – ai, die Jan se Gat darem – of op Montagu; in die Cederberge of Swartriet (foto): kuier was koning. Onder aanvoering van braaimeester Sakkie is ramkatvure gebou en berge skaaptjoppies en wors perfek gebraai.

Oor twee dinge was Sakkie adamant: i. hy – uitsoekerige vleiskenner wat hy was – gaan koop die vleis en ii. jy hou jou hande tuis. Dit was SY vleis en SY vuur. HY braai en vlieg jy in jou maai as jy wil kom slimstories maak.

Ons ander het, op sy bevel, minder verantwoordelike handlangertakies verrig soos om die hout aan te dra, speserye aan te gee of die glasies vol te hou.

Wat is die verste wat vir so ‘n spanbraai gery is? Honderd kilometer? Vyfhonderd kilometer? Nee, 2 000 kilometer. Daardie braai was op 11 Augustus 2001 in Sabiepark by die Krugerwildtuin. ‘n Groep van 24 Melkbosse vriende het “oorgekom vir ‘n Bosveldbraai”. In ‘n konvooi het hulle daarheen opgeruk. Vriend Sakkie het soos ‘n Voortrekkerleier van ouds die trek na die verre noorde gelei.

Ja-nee, met Sakkie aan stuur van sake het die klub hom nie geografies laat vaspen nie. Afstande het die lede nie afgeskrik nie. Swakopmund aan die soom van die Namib was die tweede verste – iets soos 1 800 km – maar hierdie keer het ons het darem gevlieg. Kgalagdi wat 1037 km ver in die ou Kalari is, lê op nommer drie. Sakkie het groot gedink.

Sakkie se rugbyverbintenis strek terug tot sy jong dae toe hy – bekend as Tiny, hoe anders? – ‘n kranige slot vir die klubs Noordelikes, Unie en Valsbaai was. Die beroemde Hennie, “Windhond”, Muller was afrigter en Springboksenter Colin Greenwood ‘n spanmaat. Groot wedstryde is op Nuweland en elders gespeel teen ysters soos Jan “Boel” Pickard en kwiksilwer Dawie de Villiers.

Appels is toe nog lustig geswaai. ‘n Saterdagaand is die Bruwers inry toe met Sakkie skuins op die agterste sitplek met ‘n stuk steak op sy potblou oog. ‘n Keer is ‘n rammetjie-uitnek Matie-agtsteman goed reggesien. Jare later daag Sakkie by die KWV op om sy besigheid te werf, en wie is die hoofbestuurder? Die nimlike agtsteman. Het Sakkie die besigheid gekry? Ja.

Hy was ‘n stoere WP-man – lank met sy eie losie op Nuweland. Wen die streeptruie, nooi hy sommer almal vir ‘n Sondagbraai.. As Helmien haar oë uitvee, dam die onverwagte gaste by die voordeur op. Dan moes vinnig gespring word om vleis te ontdooi en wyn koud te kry.

Later het TV sy rugbygrense verskuif. HY het ure voor die TV deurgebring om na wedstryde te kyk. Elke moontlike oorsese kompetisie – van die Sesnasies en die Heinekenbeker tot die Pro-14 en die Ranfurlyskild – het hy intens gevolg. Hy het elke span geken, asook die spelers, met vaste insigte oor wie goed is en wie nie so goed is nie. Die minder goeies in sy oë het ‘n paar bekende Springbokke ingesluit.

As jy Sakkie smoorkwaad wou maak, moes jy hom ontydig bel op ‘n kritieke oomblik in ’n kritieke wedstryd. Die vriendelike, gemoedelike ou vriend was skielik amper bruusk.

Ook vir bofbal, sagtebal, krieket, fietsry en rolbal was Sakkie baie lief – as deelnemer of toeskouer. Hoe ver en hoe dikwels gery is om na wedstryde te gaan kyk, sal sy gesin weldeeglik onthou.

‘n Minder bekende voorliefde was renperde. Hy was in die 70’s die trotse eienaar van drie met kleurryke name: “Sweet Lady”, “Volcanic Noise” en “Every Night”. Dit was die eienaar beskore om meermale ‘n wenner by die wenkampie in te lei. Vir die doel het hy ‘n lang swart jas met ‘n rooi voering gekoop – baie gedistingeerd en deftig. Aitsa, mnr. Bruwer!

‘n Gewilde daguitstappie van Probus in ‘n stadium was dan ook na die Kenilworth-perdewedrenbaan waar ‘n geldjie op ‘n perdjie of wat gewaag is en waar die tafels gekreun het van die kos.

Al die voortreflikhede van hierdie soliede, standvastige mens-mens gaan ek nie probeer opnoem nie. Ware vriendskap – veral in tye van nood – is egter hoog op die lys. Danie Grundlingh en Hennie Jonker was maar twee vriende wat in swaar tye sy oop hart en helpende hand eerstehands beleef het. As hulle vandag hier kon wees, sou hulle dit van harte beaam het.

Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. In my kop is ‘n prentjie van die groot lyf plat op die vloer voor my TV-stel in die slaapkamer om ‘n haakplek uit te sorteer. As jy ongemaklik wou raak om net gedurig aan die ontvangkant te wees, het hy jou besware met ‘n wuif van die hand afgemaak.

Sakkie was ‘n welwillende, toeganklike mens, maar hy kon ook ysterklou in die grond slaan. Wat verkeerd was in sy oë was verkeerd, en hy het nie geskroom om dit hard en duidelik van sy hart te kry. Ongeduld kon nogal deurslaan as dinge hom nie aangestaan het nie. Of hoe, Helmien?

Kwynende gesondheid het in die laaste jare sy vlerke geknip. Die afnemende kragte en onafhanklikheid het hy stoïsyns aanvaar en met blymoedigheid sy pad bly loop.

Dat daardie pad uiteindelik weg van sy geliefde Melkbos na Vredekloof gelei het, was tekenend van sy realisme, gesonde verstand, versiendheid en onselfsugtige fokus op die beste belange van diegene die naaste aan hom.

Daar was maar een soos hy – ‘n onvergeetlike eggenoot vir Helmien, ‘n onvergeetlike pa vir Johan en Sandra, ‘n onvergeetlike oupa vir Jean-Marie en Le Roux en ‘n onvergeetlike vriend. Baie mense se harte is vandag baie seer oor liewe ou Sakkie.

Foto: Grootste en kleinste in Probusgeledere: wyle Sakkie en wyle Andries Brewis.

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page