top of page
  • Uitmelkbos

ONTMASKERING VAN ‘N BYLTJIESLYPER


Ek wil vir Chris Louw (die nimlike hy van die Boetman-brief) ‘n pluimpie gee. Ter wille van die “historiese perspektief” moet ek eers meld dat ons nie juis lief is vir mekaar nie. Ek meen hy sal dit verwelkom as ek dit hier konstateer.

Rede vir die disharmonie is onder meer te vinde in die spotprentjie hierbo. Dit het op 27 Julie 1997 in die Sondagblad Rapport verskyn nadat ek op die RSG-program Monitor onder sy giftige aanslag moes deurloop. Louw het daardie oggend my onboetvaardige voorlegging aan die WVK as “geromantiseerd” afgemaak, Verligte Afrikaanse redakteurs was, wat hom betref, onafskeidelik deel van die “apartheidsregime” en daarmee basta. Hy het uiters opgewonde geraak en het my omtrent verskreeu.

In vandag, 26 April 2009, se Rapport in die bylae Weekliks (tog ‘n koddige naam vir ‘n bylae in ‘n weekblad!) verskyn egter ‘n artikel uit sy pen wat ek as buitengewoon insiggewend beskou. Onder die opskrif “André P. Brink se kleingeestigheid verstommend” ontmasker hy Brink “swift, brutal and without mercy” – soos ‘n Amerikaanse joernalistevriend, John Painter van Portland, Oregon, sou sê – aan twee belangrike fronte.

Die eerste is dat hy in sy afkrakende resensie van R.W. Johnson se jongste boek, South Africa’s Brave New World, hom ongetwyfeld aan ‘n kleinlike en geniepsige persoonlike vendetta skuldig maak. Brink betaal Johnson in eie munt terug vir ‘n negatiewe resensie in die Londense Sunday Times van sy biografiese ontboeseming A Fork in the Road.

Gaan lees maar self – Louw se saak is waterdig.

Amper nog vernietigender is sy tweede ontmaskering: dat Brink vir die gesofistikeerde lesers van die Londense dagblad The Daily Telegraph ietwat van ‘n ander deuntjie oor die Johnson-boek sing. In ‘n resensie (deur Brink aangebied) vind hy in Brave New World selfs heelwat positief.

‘n Klassieke geval van “wie se brood n mens eet, dié se woord ‘n mens spreek.”

Oor sulke misbruik van ‘n resensie om byltjies te slyp en met ‘n gevurkte tong vir twee gehore twee stories op te dis, moet Brink maar met sy eie gewete saamleef.

Vir my strek die waarde van Louw se bydrae veel wyer as Brink. Dit is die resensiebedryf in die algemeen wat onder die loep kom, en die altyd wesenlike risiko dat ‘n kwaadwillige resensent ‘n boek met verdienste as ‘t ware na willekeur kan “begrawe”.

Ek vergeet minstens een giftige resensie van ‘n eie boekie nie, en skud meermale die kop oor die stelligheid waarmee Jan Rap en sy liggewig-mater verwoestende oordele kan uitspreek oor ‘n boek wat hy of sy self nie sou kon ewenaar nie.

Net verlede Sondag was in die einste Rapport ‘n prima-voorbeeld toe ene Corné of Cornel, ‘n subredakteur by ‘n dagblad, Jaco Kirsten se Om te staar na ‘n wit plafon beetkry. Dit is ‘n boek wat sy nie op haar boekrak wil hê nie, deel sy uit die hoogte mee.

Nou kyk, ek ken Jaco Kirsten nie. Ek het Wit plafon nie gelees nie. Ek spreek dus geen waarde-oordeel uit nie. Maar dat Corné of Cornel vermoed dat dit hoegenaamd vir lesers relevant is wat sy op haar boekrak het of wil hê, is in hierdie outeurtjie se oë onuitstaanbare arrogansie.

Waarom boekeredakteurs resensente soveel vryhede toelaat , slaan die uwe dronk, veral as hulle nog onervare en sonder enige aanspraak op letterkundige superioriteit is. Dat hulle sulke buitensporige ruimte aan sommige spookasem-meninkies afstaan, vind ek nog onverklaarbaarder.


Die arme slagoffers is die arme outeurs wat lank en hard geswoeg het om ‘n boek voort te bring en die uitgewers wat ‘n hoop geld daarin belê het.

En dan bring prulsangers die een na die ander nikswerd-CD-tjie op die mark sonder dat ‘n haan daaroor kraai. Maar dis nou weer ‘n ander storie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page