‘n Gryse volbaard was so tien jaar gelede een vakansie deel van my “bos-uniform”. Avontuurlike vriende het allerlei skalkse opmerkings gemaak oor ‘n ooreenkoms in voorkoms met die AWB-leier, Eugène Terre’Blanche, wat hulle sou bespeur het.
Na aanleiding van twee berugte Terre’Blanche-insidente van daardie tyd – die keer toe hy in Pretoria van sy perd geval het en die keer toe ‘n groen onderbroek in ‘n sappige storie ter sprake gebring is – het oud-kollega Pierre van Manen vir my laat weet:
“As jy ‘n perd het, ek het vir jou ‘n stukkende groen onderbroek!”
Pierre se spitsvondigheid het my maar wrang laat glimlag – daardie mede-oud-Volkie was nie juis vir die uwe ‘n politieke rolmodel nie! (Terloops ander bekende politici wat daar langs die Mooirivier op Potchefstroom matriek geskryf het, was o.a. Pik Botha, Ferdi Hartzenberg, Louis la Grange en Hilgard Muller – “rather an odd lot”, sou my Engelse buurman in Randburg, Neil, bepaald opmerk.)
In Bloemfontein, in die onstuimige politieke jare 80, is my lewe deur AWB-kornuite nogal vergal. Doodsdreigemente en nagtelike oproepe elke liewe nag was soort van alledaags. Soggens in die donker het ek maar koes-koes oor Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) gedrafstap wetende dat ‘n Kriel-kêrel wat homself die Wit Terrorris genoem het, my elke beweging uit sy woonstelvenster kan bespied.
Hy het spesiaal oorkant Die Volksblad se gebou ‘n holte vir sy voet kom vind om ‘n wakende oog oor hierdie ou sondaar te hou. En ek ly nie aan vervolgingswaan of iets nie. Dit staan uit Kriel se eie pen swart op wit. Maar dis nie vandag my storie nie. Goeie aarde, die stryd van die 80’s is gelukkig lankal verby.
Wil net dat mense verstaan hoekom ek self verbaserig is om my rondom die rapportering in die verhoor van Terre’Blanche twee verdagte moordenaars op die plek te bevind waar ek wel my bevind.
Ek het gisteraand al op Facebook geskryf en wil dit ook hier van die hart kry dat die SABC se berig op sy sewe-uur-nuusbulletin veral buitengewoon diabolies was. Streng gesproke is dit minagting van die hof om bewerings in getuienis of verwere van beskuldigdes as feite – nog erger: “opspraakwekkende onthullings” – aan te bied, soos die SABC oor die ET-verhoor.
Hoe kan ‘n ongestaafde storie van iemand, aangekla van moord, ooit ‘n onthulling wees? ’n Onthulling beteken klaarblylik tog ‘n ontbloting van ‘n waarheid. In die ET-verhoor gaan eenstrydige getuienis (natuurlik ook bewerings) egter klaarblyklik aangebied word. Dan moet die hof beslis watter weergawe die toets van die waarheid deurstaan en watter nie.
‘n Mens hoef nie ‘n ET-aanhanger te wees om te begryp hoe diep sulke vrot joernalistieke standaarde in die harte van die “Groot Karwats” se mense moet insny nie, het ek bygevoeg. En ook: vir die jonger generasies moet dit seker ergerlik wees as gryses só graag na die “ou dae” teruggryp. Tog is dit waar dat ons in die “ou dae” nie sulke jolile-katrollie-joernalistiek sou geduld het nie. Die eerste linie van redaksionele beheer sou dit al ferm voorgekeer het.
Ek was dankbaar oor die reaksie van juis een van die jonger garde, Thomas Mollett van Piketberg, ‘n vorige uitgewer by Griffel Media. Hy stem saam, laat weet hy. “Ek sê netnou vir iemand dat in gebreke van regte bewyse dit darem wreed is om iemand wat nie daar is om homself te verdedig nie, só in die media te slag.
“Ek is ook nie hier begaan oor die persone betrokke nie, maar ek is soms bekommerd oor ‘n onverskillige media wat altyd maar net aan die einde van die bloedstreep wat hulle agterlaat, net jammer op p.17 sê, of ‘n lastereis betaal, maar reputasies en nalatenskappe laat wat nooit herstel nie.”
Vanoggend kon ek in reaksie op Thomas se bydrae gelukkig meld dat ek verlig en dankbaar was om Die Burger (seker ook Beeld en Volksblad) se sobere verslag te sien. Dit is uit die “ou skool”. Sappige brokkies word beklemtoon, maar op ‘n manier dat dit nog altyd as ongetoetste bewerings uitgeken kan word.
‘n Mens wonder of die SABC nie meer daardie broodnodige ervaring in beheerposte het om sulke willewragtig-joernalistiek voor te keer nie.
In die Vrystaat is ‘n gewese regter-president in my tyd op sy hoewe vermoor. Die beskuldigdes het in ‘n “pleitverduideliking” (‘n prosedure wat, helaas, nie die toets van die tyd geslaag het nie) beweer die “oubaas” het by hulle “klippies” gekoop en wou toe nie betaal nie. Die hof het later, veel later, bevind dis ‘n bogstorie wat uit die duim gesuig is.
Wat doen ‘n koerant/radiosender dan as hy die aanvanklike “bogstorie” dawerend as ‘n “opspraakwekkende onthulling” uitbasuin het? Dis nogal ‘n sware moreel-etiese vraag, soos Thomas ook uitwys.
Comments