top of page
  • Uitmelkbos

ONS STEM IN AMERIKA!


Iewers in Salt Lake Cit yof elders in Utah sal my vriend Rod Decker seker vandag sy kruisie vir Mitt Romney gaan trek.  Rod was die enigste Mormoon in ons klas van Nieman Fellows in 1976/77 aan die Harvard-universiteit aan die wal van die Charlesrivier in Cambridge,Massachusetts.

 Ons nuwe klas het nog skaars ons vere ingeskud in Cambridge, toe was dit ook sulke tyd: Amerika is stembus toe. Die kandidate in 1976 was Jimmy Carter vir die Demokrate; Gerald Ford, die ingesetene in die Wit Huis, vir die Republikeine.  Die Suid-Afrikaner, Hennie van Deventer, en die Mormoon, Rod Decker, was die enigste “Republikeine” in daardie Niemanklas. Ons man, Gerald Ford, het ‘n goeie drag slae gekry by die oninspirerende Jimmy Carter, grondboontjieboer van Plains,Georgia – ‘n latere (vir my nogal verrassende) wenner van die Nobel-Vredesprys in 2002.

 Uitslagnag was ‘n groot gedoente met drie TV-stelle – een op CBS, een op NBC, een op ABC – reuse-pizzas en ‘n bad vol Budweiserbier. Namate die uitslae gewys het hoe die wind waai, het ek en Decker stiller geword. Die opgewonde oormag van Demokrate het ons ongenadiglik gekoggel. John Painter van Portland,Oregon, was die voorbok. Hy het later ‘n vriend geword wat hard probeer het om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Amerika moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel in Suid-Afrika gaan oopsny!

 Die nimlike Painter – eintlik John Painter junior (junior is  ‘n titel waarvoor Amerikaners nogal lief is) –  is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Sneeu was byvoorbeeld vir hom “white shit”. Hy het nog leliker name vir ander goed gehad. Painter sal ongetwyfeld aan die Amerikaanse Weskus naby Portland, waar hy in ‘n aangename houthuis langs die see afgetree het, sy kruisie vir Barack Obama gaan trek. Hy is ‘n onwankelbare Obama-entoesias. 

Met Obama se eerste verkiesing het John vir my ‘n dringende e-pos gestuur: “Are the people of Cape Town also dancing in the streets?” Ek moes hom ongelukkig teleurstel dat ek hier op Melkbos nie eens van ‘n paar danspassies in die strate bewus sou gewees het as daar wel was nie.


‘n Spotprentjie van 1976 – Jimmy Carter die ene tande, en selfvoldaanheid.

Terug in 1976. Toe die aankondiging kom Jimmy Carter is president, het die Nieman-kurator, James Thomson, van aandoening in trane uitgebars. Dit was die tweede keer in sy lewe dat hy gehuil het, het hy later verleë erken. Die eerste keer was met sy pa se dood. 

 Ja, die Amerikaners voel ernstig oor hul politiek.  Só ernstig dat selfs kindertjies hul kruisies kan trek, soos op bogenoemde stembriefie met ‘n keuse tussen Jimmy Dolphin en Jerry Seal.   Dit was vir ons alte oulik en is dadelik plakboek toe ná ‘n besoek van die Niemans aan die beroemde  Boston-akwarium vir ‘n onthaal  – ‘n aand wat om ‘n andere rede as die stembriefie nogal vir ons gedenkwaardig geraak het. 

 Ek en Tokkie is saam met Painter en Annie (sy tweede vrou van drie) na die akwarium. Die Bloody Marys het gevloei. Huis-toe-gaan-tyd was Painter baie spraaksaam. Toe hy wegtrek met sy Ford Thunderbird hoor ons net doef-doef-doef. Dit blyk toe hy het links gedraai pleks van regs. Ons was besig om trappie vir trappie in ‘n buitelug-amfiteater na benede te ry – onstuitbaar op pad na “Jimmy Seal” in die robbepoel in die middel! Dit was ‘n gesukkel om die Thunderbird teen die steilte terug te stoot straat toe.  

 Met die deurblaai van my pak Amerika-albums kry een klein foto’tjie nuwe relevansie  Dit is geneem van die veerboot van Manhattan na Staten Island (wat nou so onder Sandy deurgeloop het)  –  die beste winskopie daardie dae vir ‘n besoeker aan New York wat sy dollars tel. In hul volle glorie troon die tweelingtorings van die Wereldhandelsentrum agter Tokkie en Marisa bo die ander geboue uit. Op 11 September 2001 gebeur die ondenkbare egter. Hulle was gelyk met die grond –  “Ground Zero”.

  Dit bring herinneringe aan ‘n ete een aand by die gemelde Rod Decker en sy Katolieke vrou, Christine – ‘n aand sonder vleis, maar dit net terloops.  

 “Julle moet Suid-Afrika ophou druk,” waarsku ek in ‘n stadium in ‘n oomblik van bravade. Maar julle kan ons tog niks doen nie,” sê Rod. “Moenie so seker wees nie. Ons sit eenvoudig ‘n bom in een van SAL se Boeings en gooi hom op New York.” Ek wonder of Decker en die ander teenwoordiges na 11 September ook daardie lighartige, ligsinnige opmerking onthou het.

In elk geval, die arme Decker. Soos met die verkiesing van Jimmy Carter gaan hy vandag weer aan die verloorkant wees, vrees ek,  Painter gaan die een wat in die strate van Portland kan dans! James Thomson sal nie eens ‘n traantjie kanweg pink nie – hy is lankal in Boston langboompies toe.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page