top of page

ONS SEUN WORD 40

Uitmelkbos

Ons seun, Johannes Cornelius van Deventer, is op 14 September 1971 gebore, presies 30 jaar ná sy pa, wat weer presies 30 jaar ná sy pa gebore is. Aanstaande Woensdag sal ons in George ‘n glasie klink op sy 40ste. Ek ry spesiaal vir daardie edele doel by Nuy langs.

Die gewone bereiking van ‘n gewone 40ste is dit nie, want op ses maande na is dit ook sy 40ste herdenking van ‘n lewe op insulien. Toe Tokkie dit gister teenoor ons apteker op Melkbos laat val, kon hy dit nie glo nie. Veertig jaar oud en amper 40 jaar op insulien – nog nooit gehoor nie!

Op die onderste foto is Johan (soos hy nou lyk) en Migael wat al tussen drie en vier jaar by Johan en Mariza is. Hy is in die proses om sy nuwe ID-dokument te kry as Van Deventer-kleinkind nommer vier. Op die boonste foto is Johan en sy ma by die voordeur van ons huis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, by die eerste tuiskoms van die nuweling in die lente van 1971.

Ek sê doelbewus “eerste tuiskoms”. Nege maande later was daar ‘n tweede tuiskoms, omdat hy op ses maande, tot algemene verstomming, ook van medici oral, uit die bloute as diabeet gediagnoseer is. Die gesukkel om die baba op insulien gestabiliseer te kry, het drie frustrerende maande geduur. By sy tweede tuiskoms kon hy al loop. Hy kon nooit kruip nie – daardie fase is woerts by hom verby terwyl hy in die babasaal in die Nasionale Hospitaal veteraan-status begin kry het, en die stad se senior kinderarts radeloos rondtas.

Daardie nooit kruip nie, kan besmoontlik aan verskeie dinge verbind word, soos ‘n onmoontlike lelike handskrif. Dalk ook dat bure van sy kleinseuntjiedae af verbaas was dat hy altyd op ‘n haastige drafstap was. Stadig loop is nou nog nie vir hom nie.

Ek ken Johan goed genoeg om te weet hy sal ‘n uitvoerige verslag van sy lewe en eienskappe, goed of minder goed, nie met welgevalle hier lees nie. Ek weerhou my daarvan. As jou eerste kind 40 word, en veral 40 teen die agtergrond soos hierbo geskets, kyk ‘n mens egter vanselfsprekend terug op die pad wat afgelê is. Dit sluit noodwendig in hoe diabetes, en insuliengebondenheid, sy lewe beïnvloed het. Dit was, om dit sag stel, in vele opsigte beperkend. In standard vier, vyf rond is sy ma byvoorbeeld saam buitelugskool toe. Sy het haar eenkant gehou, maar was naby as probleme sou opduik. Dit kon nie vir ‘n groot seun lekker gewees het nie.

Toe hy by die skool ‘n slag, soos ons dit genoem het, “lae suiker” kry, word sy ma dadelik ontbied. Toe sy opdaag, reageer hy al mooi op die glukose wat hom ingejaag is. Sy onderwyseres wat haar asvaal geskrik het, lê egter op die naat van haar rug in die siekeboeg. Die arme ding het haar “boeglam” geskrik!

Op ‘n skooluitstappie na die Vrystaatse Universiteit het lae bloedsuiker hom oorval. Die kind is op ‘n Vrydagmiddag in ‘n badkamer toegesluit, en niemand het hom gemis nie todat sy ma alarm gemaak het. Dit was hospitaalsake.

Een aand het hy in Bloemfontein nie van ‘n aandwandeling teruggekeer nie. Tot die polisie was later by die soektog betrek. Hy word toe opgespoor waar hy op ‘n sypaadjie omgekap het. ‘n Motor se ligte het geval op sy staffie, Novo, wat ontsteld by sy basie op en af spring. Novo was sy geskenk toe hy ‘n rukkie gelede op nuwe insulien, ook Novo, geplaas is. Daardie aand het Novo sy hond hom gered soos Novo die insulien vir hom al die jare ‘n lewensredder is.

Ek het Johan se drafstappie as tipies uitgesonder. ‘n Ander lewenskenmerk is hulpvaardigheid. Op skool al het hy sonder aarseling ‘n ma te hulp gesnel wat met haar baba van die pad in ‘n sloot gery het. Hy het die baba in sy ouma se arms geprop en toe die ma uitgehelp.

Hoeveel skildpadjies hy gered het en hoeveel pap bande hy vir wildvreemdes help omruil het, weet ek nie. Die ironie is dat juis hy wat altyd met die beste gesindheid vir enigiemand stilgehou het om te help, by ‘n lokval, nie ver van Atlantis nie, beroof moes word. Sy vrymoedigheid het seker ‘n knou weg.

As sy ma vir hom ‘n monument kon bou, sou sy dit oor o.m. hulpvaardigheid doen, glo ek. Sy energie wat in die vestiging van haar geskenkewinkeltjie Tokkie in Bloemfontein gestort is, was enorm – het selfs as student by veilings op ‘n kasregister en winkelrakke gaan bie om die projek bekostigbaar te hou. Vermoed hy het dit meer geniet as om in die Privaatreg-klas te sit.

Van sy Ouma het ons ‘n mooi foto waar Johan haar soos ‘n mudsak mielies oor die skouer strand toe dra. Op haar 90ste het hy skielik die ingewing kry dat sy weer by die see moet kom. Dan voeg hy altyd dadelik die daad by die woord. Ek glo as Ouma (nou 97) haar herinneringe oor Johan begin uitpak, sal hoog op haar stapeltjie wees hoe hy altyd vir haar uit sy pad gegaan het.

Iewers lees ek hoe seuns op verskillende ouderdomme oor hul pa’s sou dink. Op 40 wonder ’n seun, volgens daardie weergawe, hoe sy pa ‘n sekere situasie sou hanteer het – Pa was altyd só wys … Hoe reg of verkeerd daardie teorie is, sal ek vir Johan moet vra. Een “wysheid” van sy pa was dat sy intense voorliefde vir en kennis van motors hom vir die motorbedryf uitgeknip maak. Soos sake maar hul beloop neem, het hy ander weë bewandel. Nou bedryf hy ‘n karwassery in George. Wonder hoeveel ander karwas-eienaars weet soveel van die wringkrag en dinge van die karre wat deur hul spuite gaan!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page