top of page
  • Uitmelkbos

ONS ‘GEHEIME WAPEN’

Wat ‘n jaar was 1961 nie – vir Suid-Afrika; ook vir Die Perdeby, studentekoerant van Tuks!

Suid-Afrika word ‘n Republiek – ‘n lang Afrikanerdroom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond. NGK-mense bots sterk oor apartheid by die Cottesloe-beraad. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus: Dr. Verwoerd, pres. C.R. Swart, dr. Anton Rupert, N.P. van Wyk Louw. Elke keer is Die Perdeby op die toneel.

Komplimente vir ons koerant was volop. Die beste ‘By in sy jare op die kampus, was die mening van o.a. Piet Grobler, latere senior LV wat beroemd/berug geraak het oor sy openbare botsing met die konserwatiewe dr. A.P. Treurnicht.

Die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het op sy beurt laat hoor: “Die Perdeby het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar, ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

Natuurlik is ek trots dat ek daardie redaksie kon lei. Sy foto is een van dié uit my studentedae wat teen my studeerkamermuur hang. Links voor sit Joh Groenewald. Sien in vanoggend se Burger hy is sag heen op George. Was ook al ‘n 1939-kalwer.

Miskien is dit tyd dat ek ‘n geheimpie verklap: dat Joh – bekende filatelis van later jare – eintlik ons “geheime wapen” van daardie Perdeby was. Hy was toe al verslaggewer by Die Transvaler en ‘n knap leermeester – ook vir die redakteur.

Te laat – soos helaas dikwels maar die geval is –   wil ek graag vandag aan hom ‘n erkentlike buiging maak.  Joh Groenewald jy was in ‘n onvergeetlike jaar goud werd – vir my en vir ‘By.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page