top of page
  • Uitmelkbos

ONS EIE ‘VENESIë’


Venesië, natuurlik, maar ook Amsterdam, Parys, New York, Boston, New Orleans, San Antonio, Hong Kong, Kobe, Odessa … dis ‘n lang, onvolledige lys.  Noukanons Kaapstad byvoeg.

Plekke wat jy nie werklik volledig beleef het as jy nie met hul   veerbote, gondels, stoombote, motorbote en wat nog hul waterweë verken het nie.

Wel, Kaapstad het natuurlik al lank sy hawevaarte en anderlike uitstappies al langs die kus langs of Robbeneiland toe. Ook Houtbaai, heerlike romantiese skemervaarte met glasies yskoue vonkelwyn in die hand en annerlike plesiere. Wat praat die man dan? 

Waarvan die man (ekke) hier praat, is die hawestad se nuwe kanaalboot. Ons eie. Wonder hoeveel Kapenaars het al op hul eie boot op hul eie kanaal na hul eie V & A Waterfront gevaar, een van die moete op oorsese toere. Ek en Tokkie het … en beveel dit van harte by almal aan.  

 Die kanaal strek van Kiks tot by sonkoning Sol se One and Only-hotel. Dit vleg deur die die weelderige woonplekke van rykes en beroemdes verby, en bied op Sol se indrukwekkende ses-ster-hotel (en die spa oorkant op ‘n mensgeboude eiland) ongetwyfeld  die mees panoramiese uitsig wat jykanbegeer

Jy kan loer en jaloers wees na hartelus – selfs deur die hotel stap en afgunstig waarneem hoe die stinkrykes die laatoggend met hul roosterbrood en roereier (plus niertjies, worsies, sampioene en wat nog) behaaglik rek. Seker ook kaviaar – of is dit nie brekfiskos nie?

Tafelberg, Leeukop, Seinheuwel doem die een na die ander langs  jou op terwyl die boot stil en stadig deur die vars seewater wieg (vars omdat ‘n ingewikkelde pompstelsel gedurig water in- en uitpomp). Op die TE KORT roete is treffende brûe, tuine en fonteine.  Mooi moderne geboue sorg vir ‘n stadsprofiel wat jou kameravinger laat jeuk. 

Die kanaalboot en die rooibus is bloedfamilie en die buskaartjie sluit ‘n vaart in. Jy kan ook vir R30 (volwassene) en R10 (kind) heen-en-weer vaar – by die Waterfront ‘n teetjie of iets sterker  gaan geniet terwyl jy die nimmer-stil verskeidenheid mense van verskeie herkomste, tale en kleredrag bespied. Of die skitterende Akwarium gaan opsoek.  Geen gesukkel met parkering en spitsverkeer nie!  Die oorheersende gevoel is een van rustigheid as en daardie stukkie Kaap hom voor jou ontvou.

Die beelde bring die ou troetelnaam “Tavern of the Seas” na jou terug – uit die dae toe skepe van oraloor by die Moederstad  aangedoen het om vars voorrade aan boord te neem. Al is jou enigste “vars voorraad” nou ook net ‘n krul roomys in ‘n horinkie!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page