top of page
Uitmelkbos

“ONS DUITSER”


Van Melkbos tot Stuttgart

In die woonbuurt Kernen, Stuttgart, het ‘n sneeulagie op die grond en ‘n temperatuur van 0°C “ons Duitser”, Thomas Kuchar, ingewag na die lang pad terug van Melkbos af, via Johannesburg en Istanboel. 

Thomas het drie maande lank in ons gastewoonstelletjie op Melkbos gewoon terwyl hy in Atlantis by Daimler-Benz se gietery indiens-opleiding ondergaan het.

Hy was later soos ‘n seun in die huis. Het byvoorbeeld vir ons Duitse lekkernye gebring wat hy vir sy gaste voorberei (een heerlike slaai met ‘n naam wat beteken lafenis vir ‘n wandelaar, of so iets).  Op sy drarekenaar het ons sy Duitse lewenswyse op ‘n groot verskeidenheid foto’s leer ken – as amateur-brandweerman en op staptogte in die Alpe saam met sy pa en broer.  Ongelooflike natuurskoon.

Tog het hy hom nooit aan Tafelberg ophou verwonder nie: Die platheid van die “tafelblad”, die uitsigte op die Atlantiese kus.  Die wandelpad berg-op van  Kirstenbosch se kant af was vir hom ‘n hoogtepunt. Ook die pikkewyne by Boulders.  Die Vyf Grotes byAquila…. Thomas het naweke nie stilgesit nie.

 As Tokkie vir hom ‘n Suid-Afrikaanse gereg wil laat proe, plak sy net sy naam op die deur. Kort voor lank kom hy die trappe af met ‘n waarskuwende “Hallou..ou..ou”. As die bordjies terugkom, is dit silwerskoon.  Hy is ‘n netjiese kêrel, wat, toe hy die oggend weg is, nog vir oulaas die opwasbak blink gevryf het.

 Tokkie meen die konstante netheid van die woonstel getuig van grootword sonder huishulpe. Sy gee tog vir Thomas se ouma ook punte.  Ouma het hom geleer om niks te laat rondlê nie, vertel hy. Maar hoe ook al, Thomas se  vriendin, Stephanie (ook ‘n amateur-brandweerlid), wat in Kernen gewag het, is ‘n gelukkige meisie, verklaar my vrou, en kyk my deurvorsend aan.  

 Thomas is saam Kerssangdiens toe in die NGK Melkbosstrand en het op sy laaste Saterdagmiddag lekker saamgekuier by ‘n spitbraai saam met oud-Volksblad-kollegas.  Hy is deur al my Sabieparkfoto’s in die boeke in sy woonstel met ‘n fynkam. In ons gasteboek het hy by sy vertrek, ná ‘n laaste glasie Amarula saam, o.m. in Afrikaanse neergepen: “Baie dankie”.

 Uit Kernen het Thomas “mit freundlichen Grüßen” laat weet die weer is nie so sleg as wat hy gevrees het nie.  Temparature is rondom 0°C en die son skyn. Ons is op pad stoep toe vir ‘n koue wyntjie in perfekte weer, het ek laat terugweet. Geen blaartjie roer nie.  Dis mos soos dit is. Draai jou rug en dinge verander, ten goede of ten kwade.

 Ons geniet die windlose dae. Wat ons nie geniet nie, is om weer te begin onthou om saans die binne-alarm te aktiveer. Geen ridder op ‘n witperd in die woonstel wat die ou mense in nood sal hoor gil en te hulp snel nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page