Vier meter van die swembadjie se rand, tien meter van waar ek hier sit en skryf, is ons bosplek Tarlehoet se watergat en langs hom die voëlbad wat deur die vreemde weë van die dieredemokrasie ook amper meer drinkplek as badplek geword het.
‘n Mens sou kon sê dat ‘n verskeidenheid dors diere as ‘ t ware met hul keelgate gestem het om die gemesselde klipbadjie vir hul drinkdoeleindes te annekseer. Hou maar daardie badjie dop as hy vol is – die diere, klein en groot, kom en gaan.
Geen ode aan Sabiepark, of aan Tarlehoet, kan volledig wees as dit nie ‘n buiging na die twee drinkplekke insluit nie.
Om ‘n dier te sien drink, het mos ‘n spesiale bekoring. Miskien is dit die trillende onrus van hul spiere; miskien die brose kwesbaarheid teen allerlei vorme van kwaad wat skielik uit die bos kan bars, maar iets, iets, aan drinkende diere is daar wat die waarnemer instinktief na sy verkyker of kamera laat gryp.
By Tarlehoet se twee drinkplekke is al die volgende besoekers waargeneem: koedoes, blouwildebeeste, sebras, duikers, hiënas, vlakvarke, rooibokkies, gebande muishonde, skilpaaie, nagapies, bobbejane en ‘n duisternis voëls, waaronder bloukuifloeries, tarentale en neushoringvoels.
Streng gesproke moet die muskeljaatkat ook op die lys kom; dis sy kontrei, maar nóg ek nóg Tokkie het hom nog ooit op ons werf sien drink. Die reuse-landslak het ons inderdaad hier sien drink, maar uit die swembad. Dit diskwalifiseer die vreemde verskynsel van insluiting op ons lys “drinkebroers”.
‘n Prikkelende gedagte is dat olifante dalk ook al hier gedrink het. Ons het foto’s van ‘n olifant vlakby die drinkgat toe ‘n paar van die ou groot kokkedore enkele jare gelede deur die heining gestap en ‘n paar bome in Sabiepark kom omstoot het. Maar ons weet nie of daardie ou sy slurp in die water gesteek het nie.
Een van ons eerste gewaarwordings van diere by ons watergat was kort nadat ons in 1998 Sabieparkers geword het. Vroeg een oggend het ek uit die badkamervenster ‘n groepie blouwildebeeste by die watergat sien aantree. Hulle het nie lank gebly nie. Tokkie se verwyt was dat my “luidrugtige manier van tande borsel” hulle verdryf het!
‘n Jaar of drie gelede is ons diep in die nag gewek deur ‘n verskriklike geplas. Toe ons opvlieg, kry ons in die flitslig vier hiënas aan’t spoke in die water. Hul gevroetel met hul snoete het die teorie laat ontstaan dat hulle aas kom herwin het wat hulle vroeër daar gebêre het. Dis glo ‘n hiënagewoonte.
In die dae voor die luiperds Sabiepark se vlakvarkbevolking so hartverskeurend uitgedun het, was hier twee ou grotes wat graag op ‘n warm dag in die water kom afkoel het. Hulle het klaarblyklik nog nie gehoor: varke moenie in die water mors nie, want die ander diere wil dit drink!
Ewenwel, koedoes het ons tot verlede week, vreemd genoeg, nog net by ons voëlbad sien drink. Nou het ek foto’s soos die ene hierby van die jong bul by die watergat.
Twee dae later het ‘n mooi rooibokkies tot ons plesier die eerste keer na ons wete by een van ons drinkplekke (ook die watergat) kom krom rug trek – altyd ‘n sierlike gesig. Ongelukkig was die kamera nie byderhand nie. Voordat ek kon korrel, het hulle snuf in die neus gekry.
Maar koedoes en rooibokkies by ons watergat: dit is twee eerstes van die wintervakansie van 2009 wat in die annale opgeteken moet word.
Die okkasie van die naweek was Skukuza se halfmarathon. Dis nogal ‘n aardigheid om die gewapende “beamptes” met hul R1’s en 458’s by elke kilometermerk aan te tref. Maar ook geen wonder nie: voor die wegspring (met ‘n geblikte leeubrul) moes die helikopter ‘n renoster, ‘n leeu en ‘n luiperd van die roete afkeer! Die halfmarathon was in sonskynweer. ‘n Dag later was hierdie wêreld grys en koud en het plek-plek aansienlike buitjies uitgesak.
Comentarios