Arend de Waal, Hennie van Deventer, Cas Jacobs – drie studentemaats saam op Melkbos, Januarie 2011
Wat ons die raasblaar noem, is vir Suidwesters die koedoebos. Hierdie kostelike stukkie inligting kom van Arend de Waal, studentemaat wat tot sy aftrede hoof van Windhoek se Pionierskool was.
In reaksie op my boomblog (Ode aan my bome, 1 Mei 2011) skryf hy insiggewend oor Suidwes se bome – onder meer oor die kameeldoring wat hy die “koning van ons boomsoorte” noem, en die “deurmekaar” (watter mooi naam uit die volksmond!)
Arend sal hopelik nie omgee nie as ek sy boombydrae met ander bloglesers deel. Hy skryf:
Dagsê Hennie
Ek is `n boommens, want `n boom praat met my. Jou weergawe van die bome rondom jou huis het ek intens geniet.
Daarom kan ek vir jou in Windhoek gaan wys waar staan bome wat glad nie in hierdie deel van die land voorkom nie. Bome soos die maroela, heilboom , tambotie mopanie, sandgeelhout, annaboom wat jy net in die noordwestelike rivierlope kry, worsboom uit die Kavango.
Soos jy jou boomomgewing in Sabiepark beskryf , leef my grootwordjare weer in my. Ek het in die noorde van “Suidwes” grootgeword, waar baie van die bome wat jy genoem het ook voorkom. My wêreld is die van die maroela, mopanie, tambotie, omborombonga ( wat dalk by julle die hardekool genoem word ) waaraan die Herero-groep baie waarde heg as deel van hulle herkomsgeskiedenis, bergsering, een van die adelikes in die natuur met sy liggroen sambreelkroon teen die berghang, wilde dadel, witgat, appelblaar, masjarra ( in die volksmond die “deurmekaar” genoem) .
Die jakkalsbessie kom hoofsaaklik in Ovamboland voor. Wat julle die raasblaar noem, is by ons die koedoebos. Die makalaniepalm kom net in die noorde voor. Dit is die palm wat so karakter gee aan Ovamboland se sonsondergange.
Die koning van ons boomsoorte en wat jy kan noem ons nasionale boom is die kameeldoring, een van die karaktervolste bome wat jy kan kry. Hoe droër sy omgewing, hoe meer karakter toon hy. Die kameeldoring is egter in die RSA net so bekend, veral in die Kalahari en spesifiek Kimberley se wêreld
Ek stem saam oor die kwaliteit van die sekelbos as braaihout. Saam met kameeldoring tel hulle onder die bestes wat daar is. Maar vir my is die mopanie die koning. Swarthaak is `n verpesting as indringerbos en die boere roei dit nou uit deur bespuiting met vliegtuie. Maar as jy hom nat afkap en dan droog maak, is hy eweneens `n uitstekende braaihout en word ook gebruik om braaikole te maak.
Die voorkoms van sekelbos is `n aanklag teen `n boer wat sy grond verniel het net soos swarthaak. In die Karstveld van die noorde, veral rondom Grootfontein en Otavi, kom die wildevy baie voor, net soos die olienhout
Mense maak meubels van die Suidwes-kiaat wat bekend staan as dolfhout, wat net in die Kavango en die Caprivi voorkom.
Nou raak ek liries oor die inheemse bome van ons land, maar op my eie erf staan `n jakaranda en `n Australiese peperboom wat ek nie die hart gehad het om af t e kap toe ek hier ingetrek het nie, bloot omdat dit teen my grein gaan om `n groot boom te vernietig!
(Van my kant het ek vir Arend ‘n stukkie oor vuurmaakhout gestuur wat in 2004-boek “Buurman van die Wildtuin” verskyn het, en sy kennersmening gevra. Hou hierdie ruimte dop. Hier’s my stukkie:
Elke stamboekvuur begin natuurlik by die regte hout. In Namibië is dit die klipharde kameeldoring (of sy bruikbare stalmaat, vaal kameelboom). In die Bosveld is die eerste keuse hardekool, ‘n gespierde stuk yster versteek agter ‘n misleidende silwergrys bas. Hierdie koning van die combretums is onlosmaaklik deel van die Afrikaanse vuur-kultuur. Wie ‘n kampvuur ken wat met hardekoool gestook is, weet die kole het die volgende oggend nog genoeg woema om koffiewatertjies te kook
‘n Stomp hardekool is ‘n prima-Bosveldgeskenk. Jan de Necker (erf 281 uit Appelblaarlaan) het vir my ewe plegtig met sy Avis-Golf ‘n pragstuk kom aflaai om vir iets dankie te sê. Dit bêre ek soos goud vir ‘n baie spesiale geleentheid. Soos ‘n bottel kosbare ou wyn uit die beste skatkamers van die Bergkelder.
Hardekoolbome trotseer die elemente met ‘n taaie onwankelbaarheid. As hulle uiteindelik doodgaan — sò ‘n aristokratiese boom kan mos nie vrek nie! — bly hul skelette nog eeue lank hul monumente. Jy sien dit om baie vleie in die Wildtuin. Die Herero’s van Namibië glo selfs dat hul voorouers in hardekoolbome verander. Klaarblyklik is daardie trotse nasie ook deur die onsterflikheid van hierdie bosreuse getref.
Een ongeluk: hardekool raak al hoe skaarser. Vorige generasies het daarmee gemors. Gebruik dit dus asseblief spaarsaam en oordeelkundig. Dit is deesdae ‘n wet van die bos. Selfs die grootste vuur-fynproewers moet teen wil en dank maar vir alternatiewe rondkyk. Te ver hoef hulle darem nie te soek nie. Hardekool se kleinboet, rooiboswilig, die dominante boom in baie kolle in die Wildtuin, lewer self ‘n bobaas-braaihout. Op plekke waar die optel van hout, anders as in Sabiepark, wel geoorloof is, word die beste vuurmaakhout in rooibosveld versamel. Dit kan ek waarborg. Tel net die ou verknoetste stukke op — dit lyk of hulle nooit verweer nie. Ou rooibos-stamme word ontsettend hard. Dumisa, ‘n sterk, jong Sjangaan van die Huntington-trustgrond naby Sabiepark, het op ‘n Saterdagmiddag, na ‘n dag se fisieke arbeid by Tarlehoet, nog genoeg krag in sy arms oorgehou om twee bylstele op weerbarstige rooibosstompe flenters te slaan.
Ek kon Arend ook meegedeel het dat meubels van dolfhout nie aan my onbekend is nie. My ou Bloemfonteinse buurman die politikus Toy Vermeulen wat nou in Atlantic Beach-landgoed, Melkbos, woon, het die allerpragtigste dolfhout-kaste in sy huis. )
コメント