top of page
Uitmelkbos

ONGEMANIERDE DIERE!


Dit was nie Saterdag regtig baie warm in die Bosveld nie. Net skaflik warm. So 33 grade. Warm genoeg darem vir die bobbejane om te gaan swem. Maar “gaan swem” is nie heeltemal korrek uit die hoek van die Van D’s nie. “Kom swem” is korrekter.


Toe ons die oggend van Sabiepark af Skukuza toe ry vir ‘n ontbyt by die gholfklub (lees die reistydskrif Weg se Desember-uitgawe) was daar bobbejane al rondom die huis. Toe ons terugkeer is die stoep in chaos.


Die kleur van die swembadwater verklap daar was ander lywe in as die gewone gebruikers. Oral op die stoep is plasse water – water, wyn en die produk van die ongemanierde besoekers se nierfunksie onuitkenbaar vermeng. (Die wyn was op ys in ‘n groot verkoelerboks.)


Besonder weersinwekkend is die toestand van minstens vyf stoelkussings. Blykbaar het die tropleier – so ‘n lelike gevaarte met die bou van ‘n rofstoeier en onaangename geel tande – hom op my swembadstoel neergevlei. Die kussing is deurweek , hopelik net met swembadwater.


Ek gril aan die toneel wat ek in my verbeelding sien.


Ons wou graag ook “vinnig afkoel”. Maar vir daardie besoedelde water het ons darem nie kans gesien nie. Toe draai ons maar die kraan oop en tap uit. Al die kosbare water van ons bos-swembadjie daarmee heen.


Amper 24 uur later was ons al plassende terug in ons eie gerief, en die bobbejane veilig op ‘n afstand. Die slegte nuus is egter dat hulle weer kan kom … en weer.


My eie persepsie was dat bobbejane bra sku is vir water. By die kerk deel ‘n kundige egter mee ‘n swembad is ‘n prima-speelplek vir primate. As hulle eers gelê, sta’ en proe het, raak hulle meer erg (in die woorde van my gewaardeerde oud-kollega Johan van Wyk van Stop van |Myne-faam).


Ek sweer die bokkers oefen kliphard om te sing: “Alle bobbejaanties klap julle handjies, by Wildevy 154 is ‘n groot fees!”


Enigste diere-ongemanierdheid op ons stoep was hierdie waterkaskenades nie. Dinsdagnag was ‘n hiena op besoek. As visitekaartjie los hy ‘n plas, waarin hy rondtrap sodat geen misverstand kan bestaan oor die oorsprong van die kussingspore op die stoepteëls nie.


By die piekniekplek lees ons van 15 wildehonde wat ‘n week of wat gelede daar kom “aansit” het vir ‘n feesmaal. Ons lees ook van twee krokodille wat hul buffelprooi by ‘n troppie verbaasde leeus gegryp het.


Lyk of die vakansiegees ook vaardig is in die diereryk!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page