top of page
  • Uitmelkbos

ONDER-KERSBOOM.COM


Almal het altyd ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi omdat my verjaardag, 3 Januarie, so kort op die hakke van Kersfees volg. Siestog, jy kry seker net een geskenk, was die algemene kommentaar, kloekend uitgespreek.

Soos ek dit onthou, was die enkel-geskenk-opvatting nie verkeerd nie. Bepaald was nooit in my Kerskous ‘n pakkie en dan ‘n week later, weegesteek agter ‘n potplant of die hangkas, ‘n geskenk merk 2 met my naam op nie.

Trouens, hier tik ek aan die vooraand van my 70ste Kersfees op Moederaarde my laaste storie vir my blog voor die Groot Dag. Ek onthou bloedmin spesiale Kersgeskenke (en/of verjaardaggeskenke). Klink dalk koddig, maar dis die heilige waarheid, hoor. Wel, verbeel ek my, ek het op my 21ste van my ouers ‘n spoggerige elektriese skeermes gekry. Silwer en slank en met ‘n naam van formaat… ‘n Philishave.

Die vrou (‘n mev. Horak) by wie ek doerie tyd in Welkom geloseer het – ek het in die Goudveld vakansiewerk vir Die Volksblad gedoen – het die oggend van my mondigwording vir my ‘n omelette voorgesit waarop sy, ewe kreatief, 21 met Marmite geskryf het. Memorabel! Mnr. Horak (‘n oud-landdros wat myne toe is vir meer geld) het die aand vir my ‘n dop by die mynklub gaan koop.

Ongelukkig onthou ek ook maar min ander Kers-insidente. As familie – die Visser-susters van Perdeberg en hul aanhangsels – was ons klomp se Kerdag-bestemming tradisioneel die Fonteine. Verkenners is vroeg uitgestuur om ‘n goeie boom te reserveer. Piekniek met o.m. waatlemoen, frikkadelletjies en gemmerbier was ons voorland.

Een dag wou niggie Elise Smith opsluit agterop neef Bertus du Plessis, latere APK-predikant – se motorfiets Fonteine toe ry. Dit was die dae van die klokrompe en jaartse, jaartse stywe gaatjiesmateriaal om die onderrok voldoende te laat uitpof dat dit so wieg as jy loop.

Daardie spul lap het in die agterwiel van Bertus se motorfiets verstrik geraak. Elize se Kersmondering is brutaal van haar jong lyf gepluk. Trane. Penarie.

Ek skryf eintlik oor Kersgeskenke. Dalk is my indruk verkeerd. Ek wil-wil egter vermoed Kersgeskenke het in die algemeen maar ‘n beperkte lewensduur. Selfs die duur, tegnologies gevorderde, simbole van hul tyd in die eeu van i-ditte en i-datte bly nie vir ewig diensbaar of in die mode nie.

Goeters met wiele soos fietse, driewiele, popwaentjies, trekkers, vragmotors, brandweerwaens en karre begin later roes of metaalmoeg raak, of die plastiek versplinter in die son.

‘n Sekere kategorie klein karretjies, fraai poppies en goetertjies het die nuk om met die eerste hardhandige hantering te knak. Wonder hoeveel gifte en gawes wat “Kersvaders” aangepiekel het, onder Kersbome in bont pakkies versier was, per bosbestelling uit die “Noodrpool” aangekom het of wat ook al, oorleef dalk nie nie eens tot Nuwejaar nie.

Lank voordat “ongelukkiges” soos HvD as’t ware in tandem met Kersfees verjaar, is die behoefte aan ‘n nuwe, heel geskenk dalk al weer sterk.

Ek ken ‘n Oupa en Ouma, verstandige mense, wat glo die waarde van ‘n geskenk is nie opgesluit in die prysetiket nie, maar in die potensiaal om dekades lank plesier te verskaf. Vereistes is dat dit nie moet kan breek of gesteel of andersins verlore kan raak of deur nuwe tegnologie tot die ashoop gereduseer moet word soos Doris Brasch se Lappop nie … maar julle is seker te jonk om daardie liedjie te onthou?

Nietemin, vir hul kleinste kleinkind (‘n tedere drie jaartjies oud) gee wyse Oupa en wyse Ouma vanjaar ‘n domeinregistrasie. Syne, eksklusief net syne, is die web-adres www.klasiekoekemoer.co.za voortaan. Dis vir altyd – sonder enige vervaldatum.

Dit kos hulle net R145,00 om die domein te registreer en deur die betrokke diensverskaffer op ys te laat hou. Klasie kan in jare om te kom self besluit wanneer en hoe om te aktiveer.

Dalk word www.klasiekoekemoer.co.za nog een van die beroemdste e-adresse in die land, waarop die volwasse Klasie letterkundige juweeltjies pleeg, trefferliedjies plaas voordat hulle die trefferlyste oorrompel, gewigtige kommentaar lewer oor alles en nog wat of sake doen vir ‘n vale – selfs ‘n troumaat ontmoet.

Hoop hy sal onthou sy versiende Oupa en Ouma is eintlik sy lewenslange “webmeesters”, nie die een of ander dotnet of iets nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page