Dis seker onbehoorlik om geheime uit jou badkamer te verklap. Jammer, ek kan nie die versoeking weerstaan nie.
Die nuus uit die klein vertrekkie is dat die uwe vanoggend ‘n omgekeerde 100-tal aangeteken het. Die skaal – so ‘n plat glasgevaarte – het op 99,8 gebewe, gebewe en toe gaan stilstaan.
Die eerste keer in jare is die uwe nie meer ‘n “honderdponder” (bedoelende eintlik 100 kilogram of meer) nie. Die sop-dieet uit Skukuza skop nou in. Dankie, ds. Carl.
Die voorneme is om die skaal net hier vas te pen. Nooit is ‘n lang tyd, veral wat ‘n groot man se massa betref. Maar HvD wil nooit, nooit, nooit weer 100 te bowe gaan nie – nie as dit in sy hande is nie.
Rietskraal is ek nog nie en rietskraal wil ek ook nie wees nie – kan ek waarskynlik ook nooit wees sonder intense verhongering en intensiewe oefening nie. Maar, mense, dis net ‘n plesier as ‘n toeknooptrui (oopknooptrui?) wat nou die dag nog om die bultende middel gespan het, nou so lekker los aan jou hang.
Dit maak die hele vasbyt-oefening die moeite werd.
In “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” (Tarlehoet, 2003) was die volgende versie:
Badkamerskaal
Net een skrale kilo
op die badkamerskaal
dis al wat Daan Drommel,
in ‘n week kon behaal;
toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
en vat in sy kelder
nog ‘n botteltjie wyn
‘n Belydenis: daai Daan Drommel is ekke. Dis my alter-ego, my non-de-plume.
Nou steek ek vir ou Daan tong uit. En vanaand drink ek net weer ‘n glasie water met ‘n suurlemoenskyfie.
Die wyn kan wag .. maar darem ook nie vir altyd nie!
Comments