top of page
  • Izak de Vries

Om te kan skryf

Hi julle. Dankie vir al die lekker gelukwensinge. En dankie LitNet dat julle so baie doen! Dit word uiters baie waardeer.

Kan ek gou vir julle ’n stukkie statistiek noem?

Daar verskyn elke dag nuwe 3 000 boeke ter wêreld. Jip. Dis baie! (Dit sluit nou akademiese boeke en skoolboeke in, maar nogtans!)

En tog, kyk na dié stukkie statistiek: Elke dag word 165 000 nuwe blogs geskep. Jip, ek praat nie van nuwe inskrywings nie, ek praat van mense wat ’n nuwe blog begin.

3000 boeke vs 165 000 nuwe blogs

Dis nou wow! En weet julle hoekom? Want in blogland het ons almal ’n gelyke kans. In blogland tel my inskrywing net so veel soos die aantal mense wat daarna kyk. Loer ’n bietjie na die leierbord, dis waar die demokrasie se ware kleure wys. Ek vind dit altyd baie interessant om te sien wie waar trek. Die stories oor die liefde, die filosofie, die teaterstories, die reisverhale ..

So? Ek is vreeslik opgewonde oor my boek. Dit was heerlik om die pakkie Maandagaand te ontvang, maar, om ’n boek te skryf is ’n lang en alleen pad. Byna liefde het oor tien jaar ontvou. Jip, tien jaar!

Blogland is vinnig en onmiddellik. (Hierdie blog was tien minute se skryf en tien minute se redigering.)

En: ’n Mens kry seer in die skryfproses. Weet julle dat ek al meer male afgekeur is by uitgewers as wat ek aanvaar is? Daar is talle stories in my laai wat waarskynlik nooit gepubliseer sal word nie.

Blogland het minder grille. Mense lees jou, of nie.

Ek relativeer nie die wonderlike voorreg om weer in druk te wees nie. Ek is steeds gek oor boeke – ek gaan ná hierdie blog nog ’n goeie paar uur se nagwerk in my dagtaak (sic) stoot, want ons het boeke wat moet verskyn. En al is dit ander mense s’n, al is dit opvoedkundige boeke, is ek verskriklik trots as ek ons boeke sien inrol.

(Het vandag onder andere na minister Pandor geluister, maar daaroor ’n ander dag.)

So, dankie. Dis ’n moerse voorreg is om deel te wees van dié gemeenskap.

Ek sal later meer gesels. Ek wou net eers dankie sê. Nou moet ek eers ander se boeke gaan maak.

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page