top of page
Uitmelkbos

OM SAAM TE POMP

“My hart pomp modder.” Só het ons in die jare her ons ongelukkigheid op geen onsekere wyse nie te kenne gegee. Ek is seker die harte van die Stormers se ondersteuners gaan modder pomp as die Kalfiespan uit Pretoria hulle Saterdag pak gee, maar dit daar gelaat.

In flieks (en nie net in flieks nie!) pomp ouens mekaar vol lood. Kinders met te veel energie pomp mekaar in die ribbes.

Jy kry petrolpompe, waterpompe, fietspompe, windpompe, asmapompe en wat nog.

Pompjoggies tap vir jou brandstof in – hulle kan ook jou motor se bande pomp (tog nie wiele nie, hoor, want dan is die taalhoeder Ben van Rensburg van Langebaan op jou!).

Die bloed pomp deur jou are.

Hiermee is die toepassings, metafore en uitdrukkings in die volksmond met die begrip pomp iewers in die konfigurasie ver van uitgeput.

Maar pomp beteken aksie en energie – daaroor sal ons saamstem. Enkele ander woorde: pols, bruis, woel, blaas ….

Dis om ‘n medium te wees van Afrikaans wat bruis van lewenskrag en energie dat die tydskrif Pomp in 2008 sy buiging gemaak het: ‘n dikke derduiwel van 450 bladsye propvol aktuele leestof; visueel treffend en kreatief. Van argitektuur tot wyn (en onderwerpe verby die w in die alfabet) kom in sy bladsye aan die beurt.

Voorste skrywers maak daarin hul potlode skerp. Voorste fotograwe skroef hul fynste lense op.

Nou’s Pomp aanlyn, en ek wil die nuwe webwerf van harte aanbeveel.

Gaan soek hom by www.pomp.co.za en raak verdiep in lewende, polsende … pompende … joernalistiek.

Die man agter Pomp is Hendrik Venter van Griffel Media, wat sy inspirasie onder meer gaan put het uit die Europese joernaaltydskrif Snoecks. Net: Pomp is g’n niks Europees nie. Hy is onbevange Afrikaans.

Griffel is die uitgewer van o.m. die uwe se Byl in my bos. Binnekort verskyn ook my volgende (waarskynlik laaste) humorboekie, Praat-praat in Tamatiestraat, by daardie uitgewer (asook baie binnekort Eugène Terre’Blanche se biografie).

Dit verheug my dus grootliks dat Pomp aanlyn die Afrikaanse boek nie afskeep nie.

Aanhangers van die omstrede en gewilde webwerf Kletskerk sal dankbaar kennis neem van die konneksie met daardie webtuiste.

Volgens Jean Oosthuizen, redakteur van die nuweling, wat ook Kletskerk (www.kletskerk.co.za) bedryf, is die twee weergawes van Pomp soos ? Siamese tweeling. “Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Hulle lyk baie dieselfde maar elkeen het sy eie persoonlikheid.”

Die volledige teks van artikels uit vorige uitgawes wat uit druk uit is, word op die internet geplaas, maar net gedeeltes van dié wat nog in druk beskikbaar is.

Oosthuizen maak daarop aanspraak dat Pomp se inhoud tydloos is en relevant bly. Of dit inderdaad die geval vir internetgebruikers is, sal die aantal klikke op www.pomp.co.za uiteindelik bewys.

Klik daarop .. en pomp saam.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page