top of page
  • Izak de Vries

Om binne die kring buitestaander te wees

Nadat die tannie Katrina van die groen deur gelees het, besluit sy toe ons is almal buitestaanders, daarom is ons in.

Klink soos die soort filosofie wat HJ sou optower, maar ek dink daar steek iets in. En wat meer is, ek dink die internet maak dit moontlik vir mense om uit te reik.

Toe ek nog ’n tjokkertjie was, het Peanuts se Charlie Brown ’n rukkie lank met ’n kardoes op sy kop geloop. Dit het my fassineer. Om daar te wees, ek ook nie.

Is dít nie wat die virtuele gemeenskap doen nie? Ons leer mekaar ken, lag saam met die gelukkiges, huil saam met hulle wat treur en raak rooi op die skene, of agter die kiewe, as iemand sexy of vulgêr is.

En tog sit ons stoksielsaligalleen en tik.

Omring deur vriende. Die virtuele Engele.

Daardie foto wat Melt van my en Naomi geneem het beteken veel, want ons sien mekaar so min. Dis gewoonlik laataandgeselsies as die kinders slaap. (Daardie Skype-gesprek in my kortverhaal “Ars Poetica”, uit Byna Liefde, se tydsberekening het ek reggekry danksy Naomi se gesprekke.)

En dan is daar Maankind wat ek ook al so goed leer ken het, maar nog nooit te vore raakgeloop het nie.

Of wat van Melt? Ek en hy kommunikeer nou al hoe lank oor LitNet-goed, en daar loop ek die sexy man die eerste keer in die vlees raak. (Nee, ant Sussa, figuurlik. Jou Meltjie het klere aangehad.)

Of wat van my vriendin Suma? Sy was ook daar. Ek het, per e-pos, gelees hoe sy verlief raak, hoe sy Mauritius toe trek agter liefde aan en hoe hulle uiteindelik weer terug is. En Saterdag, toe hulle ook opgedaag het by Protea, het ek die eerste keer haar man ontmoet. (Suma is ook in die boek, ek moes haar waarsku, maar ek gaan nie sê wat haar naam is nie!)

Kyk hoe lekker lees Ludwig se stories, Lorinda se diep gesprekke, Ezile se bangpraatjies, Max se idees, Viswyf se sexy vroue, of wat van Oom Flenters se idees, Petrus Pap se happe, Krokkodil se koue, Die Prinses se ertjie, Michella se ogies wat so swak is, Kammakazi se gedigte ... Ek kan aangaan.

Ons is almal ín die e-kring, buitestaanders agter ’n skerm.

Dankie vir die rit! Dis goed om te behoort.

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page