top of page
  • Uitmelkbos

OLIFANTE, OLIFANTE, OLIFANTE!


Op pad na die jaarvergadering.

Op pad na die jaarvergadering.


Om ‘n tema te kry vir ‘n voorlopige “oorsig” van 2015 se wintervakansie is nie moeilik nie. ‘n Mens kan maar net deur die logboekie by die piekniekplek blaai. Dis olifante, olifante, olifante op elke blad.

Plek-plek is tussenin inskrywings oor buffels, luiperds en leeus. Maandagoggend was ons net-net te laat vir ‘n leeujag. Vyf leeus het ‘n buffeltroppie van so 40 of wat bestorm. Die buffels het laat vat Krugerhek se kant toe, die leeus ‘n vaal streep agterna. As daar ‘n vangs was en ons betyds op die toneel aangekom het, het dit dalk my temaliedjie verander. Maar as is verbrande hout.

Hoeveel keer ek en Tokkie self olifant-vertonings beleef het, het ek nie opgeteken nie. Van die begin van die vakansie middel Junie kon jy gereeld by die piekniekplek olifante sien, hoor en selfs ruik. ‘n Keer of wat het dit gevoel of jy net jou hand kan uitsteek en ‘n ou aan die die skurwe slurp beetkry.

Troppe van meer as dertig het gekom en gegaan – ook ‘n hoop kleintjies. Meermale in die goue strale van die son; saam met die eerste skemerkelkies.

By die jaarvergadering op Saterdag 11 Julie het die fotograwe feesgevier. Hulle is op en af langs die heining met hul lang lense en het pragfoto’s geneem van die ou grotes wat deur die vlak water aan die westekant van die piekniekplek die Sabierivier in gelid oorsteek.

Foto’s is veral geneem saam met een nuuskierige ou wat die spulletjie van baie naby kom betrag het. In ‘n stadium gelyk of hy doodluiters op ONS bruggie op pad is na ONS skuiling toe.

Tweelinge is uiters skaars in die olifantgemeenskap, aldus kenners. Ons is redelik oortuig ons het enkele dae later ‘n olifant-tweeling by die piekniekplek sien kaperjol. Die twee spelerige olifantjies het te heerlik in die sand baljaar, in die riete wegkruipertjie gespeel (darem altyd na aan ma se beskermende buik) en in die water geplas. Nes kleingoed met emmertjies en grafies op die strand, meen Tokkie.


1-161-IMG_2757

Hulle is werklik nog piepklein. Die Sabierivier is op die oomblik maar laag. Ons “tweeling” kom egter skaars by die watermark op hul ma se lyf.

Skade het nie uitgebly nie. Die paaltjieheining om die loopgang na die voëlskuiling het onder meer in die slag gebly.

By die huis het Tokkie en Patson ook rede gehad om olifantbesoeke te onthou. Sommer baie bome en boomstruike, veral raasblare, is in die vorige winterbesoek platgestoot. Operasie Opruim het dae geduur. Uiteindelik lyk die werf netjieser en kan die wild weer vryelik hier beweeg.

Koedoes, sebras, vlakvarke, wildebeeste, duikertjies, bosbokkies en bloukuifloeries het gereeld by die watergat hul dors kom les. Een duikertjie lyk of hy aspirasies het om die nuwe Witnek te word. Ons sien hom dikwels. Sy mis lê die wêreld vol.

Die hiënas het, vreemd genoeg, nooit kom gesig wys nie. Wel spore in die sagte sand by die motorpad gesien en elke nag te midde van seekoeie en leeus se luide gebrul en gebrom hul roepe gehoor.

By die ingang in Wildevylaan pryk ‘n nuwe naambord uit hardekool, soos voorheen gemeld. Die oue is nou teen muur bokant die braaiplek op die stoep. Dit is deur die Claassens-seuns gerestoureer. Ons het ook ‘n “tuintjie” by die voordeur aangelê – net ‘n aalwyn of twee, ‘n paar stompe en ‘n dammetjie wat deur die seuns gegrawe is. Die dammetjie is met ‘n plastiekbad permanensie gegee. Die oudste impalalelie het vier blommetjies gestoot – die eerste keer.

In die huis en op die stoep is nuwe foto’ opgesit en oues rondgeskuif.

In die R900 se vuurmaakhout wat aan die begin laat aflewer is, het verskeie groot vure taamlike duike gemaak. Genoeg bly egter oor vir Desember as Johan-hulle kom– hoop ek!

Van hout gepraat. Jacob, Thomas en Christopher het mos elk ‘n renoster uit hardekool present gekry. Vir Migael wag hier ‘n soortgelyke vlakvark, ook kunstig deur Pios gekerf. Tokkie se hardekool-kershouer (‘n geskenk van Marisa en die seuns) word gereeld by etes, ens. ingespan. Verleen lekker atmosfeer. Die uwe het twee nuwe name geleer: die neddikkie en die liguster. Eersgenoemde is van die tinktinkie-familie. Twee het in die pendoring by die voorstoep rondgespring (waar ook die nagapies elke aand buitengewoon aktief was). Die liguster is ‘n boom. Een staan by Skukuza se winkel. Engels: Transvaal privet.

Sien: Ons kom nie net vir die lekkerte Tarlehoet toe nie. Ook om kennis uit te brei.

(Olifant-ervarings het nie net by die piekniekplek op ons gewag nie. In die wildtuin iets gesien wat lyk doos ‘n droewe begrafnistoneel. ‘n Klompie volwasse olifante staan skynbaar rond hartseer rond en flap die ore om vyf klein olifantjies wat doodstiul tussen hul bene lê. Toe ons ‘n uur later weer verbykom, was almal weg – ook die “lykies”. Was gelukkig net ‘n oggend-siësta-tjie gewees.)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page