In die middel van die nag weergalm die telefoon. Jy skrik jou oorhoeks, struikel oor ‘n stoel, vlek jou tone oop om die tafelpoot en gryp met beklemming die gehoorbuis : “Van Deventer”.
Oomblik se stilte. Dan: “Oeps, verkeerde nommer, jammer.”
“Oeps se gee, aa, tee, man,” wil ek dit nog uitsis. Maar die middernagtelike verpester het haastig opgehang.
Slaap is weg. Wawyd wakker lê ek en wonder: is sulke verkeerde-nommer-oproepe regtig per ongeluk? Is dit dalk die werk van ‘n sindikaat van perverte vir wie dit ‘n magsgevoel gee om onskuldiges snags in hul slapende broosheid uit die bed te jaag en hul tone teen tafelpote disnis te stamp?
Ongeluk of nie ongeluk nie, die harde waarheid van oproepe van die oeps-kategorie is dat hulle in velerlei opsigte ontwrigtend, verwarrend – selfs rampspoedig – kan wees.
‘n Halfeeu gelede het ‘n Bloemfonteinse kennis gebuk gegaan onder ‘n nommer wat so na aan die nommer van die ou Nasionale Hospitaal was as dêmmit aan vloek. In hul nood raak mense se vingers maklik dom. Dan skakel hulle die arme drommel pleks van die hospitaal.
Weens die een of ander verwronge sin vir dienslewering het hy lank geduldig die teistering verduur, en altyd paraat-hulpvaardig die regte nommer verskaf. Sy enigste werklike grief was romantiese oomblikke wat op daardie wyse bederf is. Uiteindelik was daardie inmenging die deurslaggewende rede waarom hy stotterend om ‘n nuwe nommer gaan aansoek doen het.
Van hospitale gepraat, een van die mooi stories oor ‘n verkeerde nommer is die ene van die aspirant-vader wat besorgd die kraaminrigting skakel om na sy swanger vroutjie navraag te doen. Hy bel die krieketveld. “Hoe gaan dit daar?” “Skitterend! Drie is al uit. Ons hoop om nog een of twee voor etenstyd uit te kry!”
Tokkie beland nou die dag voor ‘n onklaar veiligheidshek by ‘n kompleks, en bel gou die huis waar sy wil gaan kuier. “Jan, dis Tokkie. Ek is by die hek. Dit wil nie oop nie. Druk gou dat ek kan inkom.” Stilte. “Tokkie wie?” Sy ruik nog nie lont nie: “Dis Tokkie van Deventer .. ek wil net vinnig inloer.”
Toe antwoord die stem met buitengewone teenwoordigheid van gees: “Kyk, Tokkie, ek is nie Jan nie, en ek ken jou nie. Maar as jy regtig graag wil inkom, is jy welkom, hoor…”
Teenwoordigheid van gees was bepaald ook nodig in die volgende scenario:
Mnr. Sakeman, pas weer getroud, is op ‘n buitelandse reis wat sommer ook as tweede wittebroodreis geld. Een middag wil hy gou-gou sy kantoor in Pretoria bel. Uit gewoonte skakel hy per abuis sy vorige huisnommer waar eggenote nommer een antwoord gee, verras om die bekende stem te hoor.
Dit word toe ‘n taamlik ongemaklike gesprek met eggenote nommer twee nie net ‘n belangstellende luisteraar nie, maar ‘n deelnemer met allerlei siniese kommentare. Die wiitebroodspaar was geruime tyd, soos ‘n vriend dit stel, “op rookseine”.
Identiteitsverwarring kan erg skeefloop.
‘n Man bel sy huis. “ Hi, Poplap, dis Pappa … is Mamma naby die telefoon?”
“Nee Pappa, sy’s in die boonste slaapkamer saam met Oom Frans.”
”Oom Frans….? Wie is Oom Frans?|”
“Oom Frans van die gimnasium.”
”In die slaapkamer, sê jy? Luister nou mooi. Sit neer die telefoon. Gaan klop aan die deur en skree hard dat Pappa se motor nou net by die hek ingery het.”
’n Paar minute verloop. Die meisietjie tel weer die gehoorbuis op: “Ek het gedoen wat Pappa gesê het.”
“En wat het gebeur?”
”Oom Frans het groot geskrik, uit die bed gespring sonder klere aan en weggehardloop, by die hekkie uit. Mamma het nog groter geskrik. Sy het, ook sonder klere aan, by die venster uitgeduik. Sy’t seker vergeet Pappa het laas week die water van die swembad uitgetap. Ek dink sy het baie seergekry.”
L-a-a-a-a-ng stilte. Toe kom Pappa se stem: “Swembad??? Is dit 555-7039?”
“Nee, dis 555-7093.”
“O magtig! Jammer, verkeerde nommer!”
’n Ware storie oor gekruisde lyne is van die groentjie-verslaggewer by die destydse “Rand Daily Mail” wat opdrag gekry het om mnr. Chris Heunis, minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling.
Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel. “Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die “RDM” se kolomme vind.
Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”.
Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!
Ander kommunikasiemetodes, soos die faks en die SMS, lewer hul eie komplikasies op as die sender se konsentrasie nie een honderd persent is nie.
Ekself het dit beleef rondom ‘n regsmening wat ek aangevra het oor onder meer ‘n jong kollega se ontwrigtende amoreuse aktiwiteite op kantoor. Die prokureur gee die groen lig vir summiere ontslag. Toe faks die prokureur se sekretaresse per abuis die bose dokument vir die oortreder pleks van vir my. Toeskouers vertel hy was byna deur die dak toe hy die verdoemende woorde begin lees.
My gunstelingstorie in hierdie kader is oor die SMS wat by die verkeerde adres aangekom het – by ‘n tante wat pas weduwee geword het. Boonop kondig die selfoon die aankoms van ‘n boodskap aan pas nadat sy by die huis aangekom het ná die teraardebestelling.
Skielik skeur ‘n angswekkende gil uit haar mond, gooi sy die selfoon dat dit doer trek en syg flou op die mat neer.
Nadat vriendinne die tante gelawe het, kyk een wat in die SMS haar dan nou só tot ‘n floute ontstel het. Die SMS was vreemd en van ‘n onbekende nommer. Hulle bel toe die nommer en kom by ‘n man uit wat groot om verskoning vra.
Hy wou eintlik sy eie geliefde vroutjie SMS, maar toe ruil hy per ongeluk twee syfertjies om, verduidelik die onbekende, ‘n argeoloog wat dié middag by ‘n klein halfster-hotelletjie iewers in die onherbergsame Transkeise platteland ingeboek het. Sy vrou sou die volgende week by hom kom aansluit om te help.
Toe’s dit ‘n oepsie. Die treurende weduwee lees tot haar ontreddering die volgende: “My liewe vrou, het veilig hier aangekom ná n lang reis. Hier is wraggies selfoon-opvangs. Dit is vrek-warm. Die kamertjie en kos lyk oes, maar ons sal maar moet vasbyt. Kan nie wag totdat jy volgende Woensdag kom nie. Liefde. Jou man.”
コメント