top of page
Uitmelkbos

ODE AAN MY PLEK


Vir my bome (vorige blog) sal ‘n koper diep in sy sak moet grawe as hy Tarlehoet syne wil maak. Nie dat ek wil verkoop nie. Ek wil nie dieselfde fout maak as die Klerksdorper wat jare gelede in ‘n impulsiewe oomblik ‘n goeie aanbod aanvaar het nie. Toe hy na ‘n nag se wroeg sy heiligdom vir dubbel die prys wil terugkoop, loop hy hom in ‘n onwillige nuwe eienaar vas.

Natuurlik is in Sabiepark groot, swierige en duur huise waarteen die Van Deventers se boshuis maar beskeie opweeg. Vir ons is Wildevy 154 egter doodreg. Die huis is, wat ons betref, presies groot genoeg, en sy boskarakter is nogal besonders. Die nuwe Harveyteëldak lyk spiekeries.

Sy sebravelle, skilderye en hope wildfoto’s teen die mure dra tot ons plek se boskarakter by. Ook sy rottang- en onopgesmukte dennehoutmeubels. Die bome (en wild) wat by elke sonnige venster inloer, voltooi die prentjie. Die laaste Sondagmiddag toe ons na kerk in Skukuza en ‘n rit al langs die rivier langs Onder-Sabie toe by die huis kom, was dit juis weer sulke tyd: ses sebras agter teenaan die huis, drie kameelperde langs die motorpad. Ons kon hulle deur die eetkamer- en die sitkamer se syvenster dophou.

Outydse waaiers wat uit die dak hang, skep ‘n koloniale atmosfeer, en is natuurlik goud werd wanneer die kwik in die hartjie van die somer op galop raak.

Tarlehoet se afgesonderdheid is ‘n waardevolle skepper van rustigheid en vrede. Die straat, Wildevy, is ver, meer as 100 meter soos die (bos)kraai vlieg. Die kronkelpaadjie na die huis tussen die erewag van bome en struike deur is – hang af hoe groot jou treë is – tussen 110 en 120 meter. In die somer steek die loof elke teken van die buurmanne se tuistes deeglik weg.

Die ruigheid van die area is blykbaar vir die luiperd aantreklik. Jy kry sy spore op die sagte van van die motorpad. Hy’t al op die stoep geslaap – soos ‘n bouspan tot hul skok moes agterkom.

‘n Skugter bosbokkie wei maklik tot ‘n uur lank rustig reg rondom die huis. Dan klik die kamera onophoudelik.

Saans as ek my eie vuurtjie aansteek, is dit absoluut net ek en my vuurtjie. “My vuurtjie en ek is op wag, my vuurtjie en ek alleen…” Die vlammetjies van geen anderman se vuurtjie lek voor my oë nie.

Maar ons is darem nie te ver om die Sabierivier se gedruis oor die bed van rotse op pad na die Kruger-wildtuin en Mosambiek toe 24 uur per dag te hoor nie. Dit is ons agtergrondmusiek, waarteen die roep van die visarend en ‘n koor van voëlgeluide sielsverheffend opklink.

Ook die gedurige geproes van seekoeie in die rivier, en die trompetter van uitgelate olifante op die oewers bereik gemaklik ons ore.

Ons hektaar-erf het ‘n straatfront van 120 meter, wat ongewoon breed is, selfs vir Sabiepark. Buiten sy bome-rykdom en genoeg veld vir die wild om te kom wei, spog die erf met ‘n eie bekie wat na goeie reën lustig kabbel onder laagwaterbruggie van klippe in Wildevy deur.

Tarlehoet het ‘n ruim kuierstoep onder ‘n hoë grasgewelf. Dit is waar die bosnagape en die nagapies aand vir aand hul vertonings kom lewer. Die nagapies het twee geweefde grasnessies hoog teen die muur, maar selfs met daardie voorsprong moet hulle roer om voor die gulsige bosnagape op die “piesangtafel” te kom. Die ruime beskikbaarheid van soethappies het ‘n hele gesin van laasgenoemde blykbaar na ‘n boom naby die voorstoep laat verhuis. Dis skaars donker, dan sit hulle afwagtend in die groot maroela of hoor jy hul voetstappe ongeduldig heen en weer op die dak.

Die toegekampte braailapa is vier trappies ondertoe van die stoep af. Vir ‘n middagbraai is dit ideaal, met uitgestrekte skaduwees waarvoor die maroela, jakkalsbessie en die naaste knoppiesdoring sorg. Van jou braaier het jy ‘n onbelemmerde uitsig op die watergat waar wild van tyd tot tyd hul dors kom les of – soos die hiënas en vlakvarke – sommer in hul drinkwater kom mors!

Agter, aan die noordekant, is ‘n tweede lapa, ook met ‘n paaltjieheining vir veiligheid na donker – knusser en meer beskut as die voorste, groter ene; aangenaam wanneer die windjie die aand koelerig raak, wat inderdaad ook soms gebeur. Die ligging teenaan die kombuis is bevorderlik vir gesellige kuiertjies tussen kosbereider en braaier.

Die swembadjie – nie veel groter nie maar aansienlik dieper as die sogenaamde “splash pools” wat taamlik algemeen raak in Sabiepark – is ‘n somer-saligheid enige tyd van die dag en nag. Net jammer die bobbejane begin ontdek hoe verkwikkend ‘n vinnige induik kan wees. Daarom hou ons die seiltjie deesdae maar lossies op.

Tarlehoet is presies een kilometer van piekniekplek – ‘n lekker stappie vir ‘n lid van die kieriebrigade. Al gaan dit rus-rus, ek kom daar. Boonop is Wildevy ‘n skilderagtige boom-omsoomde straat met ‘n skotige driffie waar enige verrassing kan skuil. Ons het al in die skemer ‘n luiperd daar gekry, maar darem jare gelede!

Vergewe hierdie ontboeseming. Na die ode aan my bome het die lus my beetgepak vir ‘n tweede, algemene ode aan my plek – ter bevrediging van ‘n opwellende nostalgie saam met die jare wat drafstap, maar darem ook vir kennisname van eiendomsagente en voornemende kopers, Moenie Tarlehoet se waarde onderskat nie!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page