Uit my bed, as ek soggens in Sabiepark ontwaak, is die eerste blik op die muur van bome aan die anderkant van die skuifdeur altyd vir my ‘n betowerende begin van die dag. Vanjaar is dit of ek die feitlik ondeurdringbare Bosveld-lower voor my oë met nog groter intensiteit waarneem – dalk weens die bereiking van die simboliese en Bybels-betekenisvolle 70 nou ook al vier maande gelede op 3 Januarie 2011.
Elke venster van ons boshuis, Tarlehoet, bied sy eie boom-prentjie. Soos Za-Za Pieterse, skrywende boervrou van Smithfield, in ‘n ode aan Sabiepark by my 60ste geskryf het: dit is asof die Bosveld oral in die park deur die glas by die mensekinders kom “inkruip vir ‘n oulaas-lê”. Die toneel van ons bed af is my gunsteling, hoewel die panorama van 180 grade van die stoep af ook sterk meeding.
Die drie dimensionele toneel van die bed af in skakerings van groen is in die boonste hoek geraam deur die sytakke van ‘n gedugte maroela, een van die Vyf Grotes van die boomryk, en ‘n parmantige jong jakkalsbessie wat styf teenaan die ou heer se stam opbeur. Regs bo in die raampie steek die boonste takkies van ‘n sterkastaiing uit.
Die naaste laag bome bestaan hoofsaaklik uit pendorings, rosyntjiebosse, ‘n driehoek rusperboontjies en ‘n verskeidenheid sekelbosse, wat in Kerstyd, wanneer dit in blom staan, skitter. Die sekelbos is nie verniet as die “Bosveldse Kersboompie” bekend nie.
Die tweede vlak, ietwat hoër, bestaan uit onder meer wilde katjiepiering, Laeveldse melkbessie, ‘n horingoue pendoring en ‘n stewige raasblaar. Die derde vlak is rysige knoppiesdoring op rysige knoppiesdoring, soos die silhoeët van ‘n stad met indrukwekkende wolkekrabbers.
As jy by die voordeur uitstap op die ruim kuierstoep, staan jy oorstelp. Dis net bome, bome, bome. In die somer, en nou ook in die welige herfs wat ons vanjaar beleef, word jy begroet deur ‘n see van groen, dikwels gemeng met ‘n reënboognasie van voëls: van die statige bloukuifloerie wat al roepende van tak tot tak hop, tot dartelende withelm-laksmanne tot raserige kakelaars met hul alewige ge-“kekkel”.
Tussen die blare steek dalk die lang nekke van kameelperde uit, of die gestreepte vet lywe van rustig-weiende sebras – soms gelyktydig en met ‘n bonus soos bosbokkies, rooibokkies of vlakvarke bygevoeg.
Die bome-verskeidenheid word aangevul deur onder meer maroelas, wat ook Vyf-Grotes-bome is, jakkalsbessie, haak-en-steek, appelblaar, blinkblaar-wag-‘n-bietjie, kierieklapper en ‘n hand vol rooiboswilge. Van die stoep af sien ‘n mens ook die hele halfmaan wakende “soldaatjies” om die drinkgat: ‘n reuse-rosyntjie, rooiboswilg, pendoring, Transvaalse saffraan en melkbessie op aandag, styf teen mekaar. Jy sien nog knoppiesdorings – erf 154, Wildevy, se nasionale boom, soos ek hulle al gedoop het.
Hierdie muur is minder ondeurdringbaar as die een wat uit die slaapkamer waargeneem word, maar die wisselende kleure, teksture en hoogtes skep ‘n onvergeetlike tafereel.
Dis ‘n raaiskoot, net ‘n raaiskoot, dat ons so 40, 50 van die sowat 400 Bosveldbome op ons erf van een hektaar het. Ons klinkerhuis is letterlik omring deur bome. Waar die voorste braai in die skaduwee van ‘n maroela en die jong jakkalsbessie staan, is die agterste in die skadu van twee knoppiesdorings, ‘n kleiner maroela en ‘n rooiboswilg (terloops, ‘n voortreflike braaihout).
Van die agterste braai kyk jy op ‘n pragtige huilboerboon op ‘n miershoop, ‘n geil raasblaar en ook op die mooiste blinkblaar-wag-’n-bietjie op ons erf. As die huilboerboon blom, is dit feestelik getooi in rooi. Die knoppiesdorings (ek tel, waar ek hier sit en tik, vinnig 15) dra in die lente weer ‘n wit bruidsluier. Die doringbome se geel bied ‘n vrolike afwisseling in die blomtyd van die acacias.
Net deels van die stoep (en van die huis af) sigbaar, is die boonste punt van die kronkelende groen oprit van sowat 120 meter uit Wildevy. Langs hierdie laning – ek spog onbeskroomd dat dit een van die mooiste in Sabiepark moet wees – staan ‘n erewag van pragbome wat mooi, opgeskote jakkalsbessies en maroelas insluit. Hulle gaan GROOT bome word. Saluté, julle!
Ander buitengewone bome aan weerskante van die motorpad sluit in sambokpeul, huilboom (helaas bra sukkelend), swartklapper, rooidoring, skilferdoring, sebrahout, dopperkiaat, vaalboom (met sy onverdiend onvleiende naam en kunstige stampatroon), kierieklapper (beroemd as leweransier van reguit kieries) en allerlei gwarries (o.m. towergwarrie en Natal-gwarrie). Sekelbosse (ook goeie braaihout) staan ingeryg. As die son deur die fyn blaartjies skyn, skep dit ragfyne silwer patroontjies. Van tamboties (let wel, NIE geskik as braaihout nie!) skiet langs die motorpad ‘n jong woud op.
Langs die stoep begin twee aangeplante impalalelies en ‘n aartappelbos (ruik soggens en saans nes aartappel in die pan) mooi koers kry.
Maar raai, net nêrens op Wildevy 154 kry ek ‘n teken van enige wilde- of ander vy nie!
Comments