Vanpas ge-das vir die East India Club, maar verder lyk ek maar soos ‘n voelverskrikker!
Visum-skok, basuin koerante die slegte nuus uit. ‘n Skok is dit absoluut en inderdaad om nou R1 000 bloedgeld op te dok vir ‘n visum vir Engeland. Die een of ander lomperd het hier sleg gegly, en dis om van briesend te word dat ons so gestraf word vir sulke lamsakkige onbeholpenheid op regeringsvlak.
Ontsteltenis oor die visum-bokkerop loop wyd. Kom ons los dit maar eenkant – en gesels liewer oor die wonderlike Londen. Wat ‘n stad! Dis mos ‘n plek wat sommer baie diep in Suid-Afrikaanse harte kruip.
In ‘n peiling onder Suid-Afrkaners oor hul gewildste kuierstad sal die Britse hoofstad aan die Theems seker moeilik geklop word. Na ‘n bietjie wik en weeg kry hy ook my stem. Want Londen is ‘n stad met ‘n kloppende hart. Sy duisternis attraksies en aktiwiteite lok jou weer en weer.
Ek was een van die bevoorregtes wat in my lewe heelwat “amptelik” kon reis – veral as redakteur. In Londen was ek veel meer kere as in Oos-Londen. Maar na al my besoeke was ek steeds nie uitgekuier nie – dit verklap die tinteling in my bloed wat ek in 1999 weer ervaar het toe ek, met mev. Van Deventer en ons dogter, Marisa, aan my sy, al daardie bekende landmerke te voet en uit ‘n rooi bus vir oulaas in die oog gekry het. Ook al 10 jaar gelede – tyd vlieg!
Trafalgar, Piccadilly Circus, Big Ben, Buckinghampaleis, Hyde Park, ‘n lekker pub … oral waar jy kom, voel jy tuis! Dis daardie gemaklike tuis voel in Londen wat jou liefde wen en jou laat voel die nuwe visumvereistes is soos om ‘n tolplaza voor jou voordeur op te rig!
Iemand wat moeg is vir Londen, is moeg vir die lewe, het ‘n wyse opgemerk. Ek sekondeer. Pas net op vir Londen op Kersdag. Dan rol hulle die sypaadjies op, sluit die plek toe en steek die sleutel weg! Openbare verkeer knars tot stilstand. Dit het ons nie besef nie. Die gevolg was ‘n triestige niksdoen-dag in St. John’s Wood (waar ons woonstel destyds was) op 25 Desember 1999. Ons armsalige Kersete was oorskiet-toebroodjies, rosyntjiekoek en jenewer!
‘n Week later was dié ontnugtering vergete. Londen se Nuwejaarsparade was ‘n verrassing van ‘n lekkerder soort. Die Engelse het dit – met selfvertroue wat aan Amerika herinner – the world’s greatest parade – gedoop. Nie sonder grond onder hul voete nie.
Presies op die middaguur op 1 Januarie, toe Big Ben sy twaalf slae slaan, het die prosessie by Westminster-brug in beweging gekom. Vir 100 minute het Londen se vernaamste strate – Whitehall, Regent Street, Piccadilly — daarna ‘n prettige, raserige kleurefees geword.
Hier was die rolverdeling van 10 000 op 1 Januarie 2000: 25 van die wêreld se beste mars-orkeste, verskeie pelotons Amerikaanse tamboernooiens, straat-artieste, reuse-ballonne, koetse, narre, Noag-karre…
Oorspronklikheid was die wagwoord. Ons het ons so verstom dat ons net-net betyds by Heathrow was vir ons vlug huis toe. Hopelik leef hierdie jolige tradisie nog voort.
Herinneringe aan Londen kan hemelsbreed verskil. Een kies ‘n ongelooflike opvoering in die West End, ‘n tweede ‘n kriekettoets op Lord’s, ‘n derde die marmerprag- en- praal van die afdelingswinkel Harrods in Knightsbridge se Food Hall.
Tokkie, weet ek, onthou veral ‘n toneeltjie in die katedraal St. Paul’s, bekendste meesterstuk van die argitek Sir Cristopher Wren.
Sy vestig my aandag een middag op ‘n jong blinde paartjie wat, styf ingehaak en koppe omhoog, die atmosfeer indrink. By die bushalte hoor hulle ons praat Afrikaans. Hulle stel hulleself bekend. Die twee kom van Namibië af – stoksiel-alleen in ‘n groot wêreldstad met hul wit wandelstokke, avontuurlus en moed.
In my herinneringe het my Londense “huis-weg-van-die-huis”, die East India Club aan St. James Square, ‘n ereplek. Dié klub, ‘n vinnige stappie van Piccadilly Circus af, is so stywenek Engels dat my beste leerbaadjie “te informeel” geag is vir die ontbytkamer waar die Lords en die Sirs die London Times en Daily Telegraph oor hul tee en roosterbrood sit en lees. Ek is ferm weggewys om my ordentlik te gaan aantrek!.
‘n Ander keer toe ek op pad uit in ‘n kortbroek in die voorportaal verskyn, was die ge-uniformde deurwag stamelend van skok! Hy sou my “naaktheid” met ‘n laken wou bedek.
In die ongemaklike gesprek wat volg, kom dit toe uit hy’s self ‘n Suid-Afrikaner (van iewers aan die Oos-Rand) en pas maar net die reëls toe, want die werk is bestendig en die fooitjies is goed. Wiens brood mens eet….
Comments