O MAGTIG! – DIE NUUS
- Uitmelkbos
- Mar 21, 2010
- 2 min read
Net een kyk na die voorblad moet die leser laat uitroep: “O magtig!” Dan weet jy jy het ‘n goeie koerant. In hierdie advies van ‘n Britse koerantbaas skuil nogal ‘n stuk waarheid.
Dink net hoe die krete van “o magtig” sal vlieg vir ‘n voorblad met die volgende berigte:
Spesiale permitte nodig vir veisbraaivuurtjies:
Pretorias se “volksvreemde” jakarandas gaan waai;
Bloemfontein se Naval Hill gaan platgestoot word om Kimberley se Groot Gat op te vul;
Alle Afrikaners met die vanne Verwoerd, Vorster, Malan en Botha moet dit verander tot Zuma, Malema, Sexwale of Ramaphosa;
Die KKNK verskuif na Australië;
Die Springbok-embleem word twee gekruisde assegaaie.
Sulke “berigte” is wel al gepubliseer of uitgesaai. Liggelowiges het dit vir soetkoek opgeëet. Hulle het warm om die boordjie of in wanhoop gereageer. Later moes hulle skaapagtig geglimlag as hulle agterkom hulle is met Aprilgek-stories uitgevang.
Gekkedag word op 1 April omtrent oor die aardbol gevier – van die ooste tot die weste. Selfs in die humorlose Rusland. Mense word poetse gebak, vir die gek gehou of in die algemeen perdebolle vir vye gevoer. Die doel is om die slagoffers soos sotte te laat voel.
Koerante, radiostasies en wat nog speel lustig saam, dikwels met prominente berigte wat só aangebied word dat dit meer as net ‘n skyn van geloofwaardigheid vertoon. Ook vriende stel mekaar strikke, familie vang mekaar uit.
Die oorsprong is só oud soos die berge – volgens een weergawe selfs só oud soos toe die berge in die Sondvloed met water bedek was. Die dag sou dan ontstaan het toe Noag – glo op die eerste dag van die Hebreeuse maand wat met April ooreenstem – die duif te vroeg uit die ark gestuur het. Daar is egter hope ander verklarings.
Tokkie het in ons gesin nogal konsternasie veroorsaak met haar mededeling een 1 April dat sy swanger is met ‘n bitter laat laatlammetjie. ‘n Niggie het net voortgegaan om verbete haar naels te vyl toe sy die nuus hoor, en koeltjies opgemerk: “Hoe interessant”.
Ek was op Groot Brak om ‘n heildronk by ‘n goue bruilof in te stel toe ons dogter, Marisa, een middag bel: hulle trek sak en pak (klein tweeling en al) iewers in donker Afrika in. Om die kleinkinders te sien gaan, was allesbehalwe ‘n aangename vooruitsig. Die telefone tussen my en Tokkie by die huis is vuurwarm gebel.
Toe bel Marisa weer en vra vroom: “Watter dag is dit vandag?”
Dêmmit! Om te dink ek het my stortbad opgeoffer om op Tokkie se skouer te huil en rond en bont by ingeligtes dringende navrae te doen oor mediese geriewe en dies meer in die land van hul bestemming. Maar dit was glo ‘n manier om hul ma terug te kry oor die swangerskap-storie.
Nou’s ons aan die vooraand van 1 April. Kreatiewe geeste is seker al aan’t planne maak vir Gekkedag 2010.
Oor die groot sokker sou ‘n koerant of radiostasie dalk ‘n lekker relevante liegstorie kon opdis. Maar ek dink ek stem saam met Tokkie: Tema Nommer Een moet Julius Malema wees. Min ander onderwerpe kan soveel blou woede ontlok!
Comments