top of page
  • Uitmelkbos

O HIER IS MY APIES, MY APIES …

Week drie van die wintervakansie breek aan met die blye nuus van die nagapies se lank afgewagte herverskyning op Tarlehoet se stoep.

Presies om 18:10 Maandagaand land die eerste Drie minute later land nommer twee. Eerste keer dat ons 14 dae moes wag. Die opgewondenheid was groot. Helaas te laat gewees vir ‘n foto.

Albei besoekertjies het taamlik verskrik voorgekom. Eerste ou het vinnig ‘n skyfie opgeraap en laat vat. Die tweede het darem twee keer teruggekom. Wonder wat hulle so laat skrik het dat hulle so sku en op hul senuwees is. Ons hou maar duim vas dat hulle weer ‘n instelling gaan word.

Drie bloukuifloeries het blykbaar in die katjiepiering by die voorstoep ingetrek. Hulle is heeldag hier rond. Sebras en bosbokkies het vir mooi foto’s by die watergat gesorg. ‘n Hiëna laat gereeld Tokkie se gorillaligte aangaan. Paradysvlieëvangers maak ook meermale hul opwagting.

By Philip en Nance van Rensburg se huis (“Ons Plasie”, 62) het ons ‘n nuwe stukkie sebrakennis opgedoen: hoe lief die nasie vir die soetdoring se heldergeel poeierkwasblommetjie is. Hulle eet verbete.

Lente breek vroeg aan. Die drolpere staan in sierwit “bruidsgewaad”, die knoppiesdoring is ‘n see van geel en onder die worsbome lê die rooi trompette dig. Wonder darem hoekom so ‘n sierlike boom so ‘n onwelriekende naam gekry het.

Van die lekkerste aktiwiteite bly maar elke aand se vuurtjie maak vir die braai. Die ou man se houtgebruik is minder konserwatief as tevore. Nou die aand die gloeiende kole benut deur agterna soos kinders malvalekkers op stokkies te braai.

Ons mis steeds ons koerant – ook by die vensterwassery. Ons mis ook die kerk – maar bly lugtig vir “byeenkomste”. Die mense van Mpumalanga blink juis nie uit in die dra van maskers nie – selfs in Sabiepark. Wat ons nie mis nie, is die bobbejane. Hulle hou hulle skaars, skaarser as ooit, en ons is in die wolke daaroor.

‘n Aanwins op ons boekrak is Ron Dulek van Alabama se “Sitting with elephants” (kyk die hoofstuk “Skurwe slaapmaats “ in “Bure van nature”). ‘n Boeiende en insiggewende boek oor sy toenadering tot en uiteindelike vriendskap met ‘n tamaaie matriarg . Sy vrygewigheid met fooitjies laat net die oë rek – tot R500 vir die drie hekwagte elk wanneer hy padgee. Dink ek moet ook my keps by 286 gaan hou.

5 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page