Jy’s in ‘n gat as jy terneergedruk voel en met ‘n gat as jy te diep in die bottel geloer het.
As iemand opmerk jy het ‘n groot gat verwys dit na jou struktuur. As hy beweer jy is ‘n groot gat verwys dit na jou persoonlikheid.
Jy kan natuurlik ook ‘n groot gat van jouself maak. Kimberley het boonop sy eie (mensgemaakte) Groot Gat, waarheen toeriste stroom.
Jy kan ‘n bekertjie gat geniet (koffie) of dit haat om in so ‘n gat van ‘n plek te woon (waar jou gat uit die witgatboom se wortel kom en nie uit Pick n Pay – of, as jy ‘n ryk gat is, uit ‘n eksklusiewe koffiehuis nie).
Jy kan met jou gat in die botter val (‘n gelukkie oorkom) of ‘n gat in jou beursie hê (slegte nuus vir jou bankbestuurder).
Jy kan ‘n gat deur ‘n emmer praat (soos die spraaksame buurvrou!) of ‘n gat uit ‘n bed slaap (as jy nie aan insomnia ly nie).
Jy kan jou gat sonder’n spieël sien of dalk as jy gat oor kop slaan (bollemakiesie).
Nadat ons nou die dag oor die heerlik, hoogs bruikbare en betekenisryke woordjie gat gesels het, het ek die boek Wat praat jy! by my Melkbosse vriend, Thys Slabber, ‘n vrolike Swartlandse boer, raakgeloop (die Slabberts met ‘n “t” is Sappe, seg hy!)
In die boek (wat ek dadelik by Kalahari bestel het) skryf Johanna de Wet, Hoopstadse ouma wat op die buurdorp Bultfontein (Tokkie se heimat) gebore is, meesleurend genotvol oor Afrikaanse idiome, gesegdes en uitdrukkings (sal nie waag om te beweer Bultfontein/Hoopstad is aan die gatkant van die aarde nie!).
Ter wille van haar kleinkinders het sy sommer begin neerskryf wat die herkoms van bepaalde gesegdes is. Toe word dit, in haar eie woorde, “soos ‘n swaar voertuig sonder remme teen ‘n steil afdraand”.
Die resultaat is ‘n Protea Boekhuis-bundel van 496 bladsye. Pas op vir Johanna se lorrie!
Gat, lyk dit my, is een van die woorde met die meeste verbuigings en idiomatiese gebruike. Die boonste klompie is maar ‘n handjie vol.
In Johanna se boek (noem haar sommer op die ou Boeremanier Johanna want ek het darem op Hoopstad ‘n Geloftefees toegespreek op my dae!) leer ek ook van gatetsie voel (baie moeg), gatkraak (bitter moeilik) en gatstompie (‘n zol wat met beesmis gedraai is).
Gattapatatta – wat ‘n funksionele woord is gat tog nie!
Laat my sommer dink aan ‘n ete een aand in Waverley, Bloemfontein. ‘n Vername regter se vrou vervies haar vir haar geleerde eggenoot: “Jou gat man.” Sonder om ‘n oog te knip kom sy antwoord: “Darem ‘n uiters funksionele ding, my dier!”
Dit daar gelaat. Intussen hoor ek ook van ‘n opvoering Annale van ‘n Windgat van Barry van Rensburg waarin die gat-woord, volgens hom, in idiomatiese sin gebruik word en wat mense in die noorde op die oomblik gate uit geniet.
Op my dag was ek ‘n aspirant-intervarsitydirigent – vrotterig maar toemaar. Een van my kwinkslae was: “Geniet julle julle gate uit?“ Bulderende “ja”. “Maar dan’s julle mos ‘n klomp siwwe!” Het nie juis dawerende lagbuie uitgelok nie.
Ook dit daar gelaat. In Desember kom Windgat (geen verwysing na die outeur nie, hoor) Suid-Kaap toe. Van Knysna tot Stilbaai gaan dit op die planke kom (dalk planke met gate in?). Januarie (wanneer die Suidoos hier rond werklik gat skoonmaak) kom die Kaap aan die beurt. Op die oomblik is Barry in Noord-Natal, meen ek. Toe mense, roer julle gatte. Gaan soek nuus daaroor op Facebook.
Ek het vir Barry laat weet hy kan gerus aan ‘n opvolg begin dink. Die titel kan wees: Gattapatatta. Hy reageer nie afwysend nie.
Commenti