Onder “Geboortes en Sterfgevalle in die diereryk” word die volgende “persoonlike advertensie” altyd deur ons en ons bosvriende met vreugde begroet: “Gebore in Sabiepark, Mpumalanga: fris kameelperdjie. Moeder en baba albei wel.”
Elke keer as ‘n Sabiepark-nuusbrief dié blye bulletin bevat, heers groot opgewondenheid in die Van Deventerhuis. Dis ‘n okkasie.
Des te meer was dit ‘n okkasie vir ons dogter, Marisa, haar man, Brent, hul drie seuns, die tweeling Jacob en Thomas(7) en Christopher (2), en drie gaste wat die Paasnaweek toeskouers was by ‘n kameelperd-“bevalling” in ons eie straat, Wildevylaan.
Die gelukkige groepie het die hele geboorte van A tot Z gevolg, van die oomblik dat die beentjies begin uithang het totdat die nuweling, kop, pens en pootjies, kaplaks op die grond te lande gekom het.
Wat ‘n weergalose natuurervaring, veral vir ontvanklike kindergemoedere. Die foto’s daarvan is, sonder om te oordryf, met een word aangrypend. Ek plaas vandag’n kompilasie, met komplimente van Brent.
Op Melkbos is ek en Tokkie per selfoon van die vordering op die hoogte gehou. Ons is so meegesleur dat jy maar kan sê applous het hier, 2 000 kilometer ver, spontaan opgeklink toe die kleinding doer uit die hoogte drie meter ver op die grond neerplons.
Die eerste boodskap van Marisa af het die tafel vir urelange meelewing gedek: “ Kameelperd besig om geboorte te gee. Kinders kyk – ek op pad. Brent het my gou kom haal!!!”
‘n Volgende boodskap het gelui: “Bene halfpad uit. Ongelooflik!”
Toe kom die aankondiging: “Kameelperdjie gebore. Lê nou op die grond.” En kort daarna: “Te donker … kan nou niks sien nie.”
Die volgend oggend was die Claassens-span vroeg op die kraamtoneel. Tussen die takke deur het die kordate lang nekkie van die baba uitgesteek. Toe, seker weens die een of ander ongehoorsaamheid, kry die outjie skaars 18 uur na sy eerste aanskoue van lewenslig ‘n moederlike skop!
Wat ons kinders en kleinkinders beleef het, was nie my en Tokkie, en ook niemand in ons vriendekring, nog beskore nie. Die naaste was die entoesiastiese rapport van ‘n vriendin dat sy kort voor ‘n vorige kraamgeval kon waarneem “hoe die kleintjie in die kameelperdmamma se buik beweeg”.
Een van die jonger generasie kameelperde is enkele jare gelede op ons werf verwek, glo ons egter – en daarvan was ons seun, Johan, en sy vrou, Mariza, getuies. Fotografiese getuienis van die daad bestaan. Johan moes vinnig die knoppie druk. Met “vinnig”, bedoel ek “vinnig”. Sodra die ys ná ‘n tydsame toenadering gebreek is, gaan kameelperde as ‘t ware tot snelvuur oor.
Hulle poer-poer nie in die “slaapkamer” nie!
Comments