top of page
  • Izak de Vries

NP van Wyk Louw, Stoffel Nienaber en lesende kinders

Om jou kind te laat lees is ’n enorme ding. Groots. Fantasties. Hier is heelwat bloggers wat dit duidelik doen. Nou wil ek julle in julle kwaad stook. Daar is ’n wonderlike stuk in Saterdag (21 Junie 2008) se BY wat ek graag vir alle bibliofiele aanbeveel. Ena Jansen, een van ons voorste akademiese uitvoerprodukte, het vyftig jaar na NP van Wyk Louw se vertrek uit Amsterdam ’n bietjie saam met sy dogter, Reinet, in Amsterdam gaan rondloop.

Ek gaan nie Jansen se stuk herhaal nie, lees dit gerus self. Julle gaan rol van die lag as julle sien wat Reinet met Adam en Eva aangevang het voor die hele skool!

Maar, ek wil graag twee goed verder toelig: a) Louw se grootse poging om kinders te laat lees, en b) iets baie persoonlik sê oor die verhouding tussen Louw en Shiela Cussons.

Oor lesende kinders

Reinet vertel in die vermelde artikel aan Ena Jansen dat haar pa haar toegelaat het om alles in die huis te lees, selfs van ’n baie jong ouderdom af; vandaar haar uitsonderlike vermoë om Adam en Eva te skets! En hoekom nie? (Ek glo nie jy moet kinders onnodig weerhou van “grootmensboeke” nie, behalwe as daar geweld in is wat hulle te ná aan die hart lê. My seun het byvoorbeeld nagmerries gehad oor Tsotsi, omdat hy treine ken. Aan die ander kant lees hy elke week die Mail & Guardian saam met my en hy wil baie graag meer weet as daar foto’s oor geweld is in Zimbabwe, of oor die slagoffers van xenofobie in is. Beperkte sekstonele en naaktheid kan kinders maar sien, maar nie is dit gewelddadig of skokkend is nie. Dis beter dat hulle baie vroeg al te laat verstaan wat gaan vir wat.)

As julle JC Steyn se biografie oor Van Wyk Louw lees, sal julle ook sien hoe hard Louw gewerk het om kritiese lesers onder die Afrikaanse kinders te kweek. Hy het keihard gewerk aan maniere om die nuus, die wetenskap en kuns aan jonger lesers voor te lê. Maar lees gerus die biografie. Dis toonkrullekker, al is dit so dik.

Louw se antwoord oor wat kinders moet lees, sou dus heel waarskynlik gewees het: “Alles.” Maar lees self, want ek interpreteer nou.

Oor Sheila Cussons

Ja, Louw en Cussons het ’n affair gehad. En, op ’n vreemde manier, het dit ’n enorme uitwerking op my lewe gehad.

Hoe so? Wel, in my blog oor Anne Frank het ek genoem dat my oupa, Jan van der Bom, dood is in die Tweede Wêreldoorlog.

Na die oorlog het heelwat Afrikaanse akademici hulle in Nederland bevind. Sommige het klas gegee, ander het verder studeer. Vier van diegene was NP van Wyk Louw en sy vrou Truida, en Stoffel Nienaber en sy vrou Sheila Cussons.

Die vier was vriende. Toe Stoffel se pa op sterwe lê, besluit hy om, per boot, na Suid-Afrika te vertrek. Volgens Stoffel het hy glo vir Van Wyk Louw gevra om “na Sheila te kyk”.

Nou ja. Wyk hét na Sheila gekyk.

Ena Jansen se artikel, waarna ek hierbo verwys, toon hoe Wyk en Truida mekaar uiteindelik weer gevind het, ook dat hulle baie lief gebly het vir mekaar.

Tussen Stoffel en Sheila het dit ongelukkig nie uitgewerk nie.

Die voordeel, vir mý, was dat Stoffel toe die jong weduwee, Miep van der Bom-Luitingh raakloop en al te gou dink dat die skattige, sewejarige Marianne darem nét te oulik is.

Stoffel en Miep het na Suid-Afrika teruggekeer. (Stoffel eerste, Miep en Marianne later.) Dirk (DJ) Opperman het die bruid weggegee in Kaapstad se Grootte Kerk. Onmiddellik daarna het die nuwe paartjie, Miep en Stoffel, amptelik die jonge Marianne aangeneem. Op dié manier het sy haar jong lewe lank in Suid-Afrika haar nuwe pa, die enigste wat sy ooit geken het, se van gehad.

So het dit dan ook gekom dat Stoffel en Miep my oupa en ouma was. En, soos Wyk vir Truida, het Stoffel en Miep my aangemoedig om alles te lees wat voorkom.

Ek onthou hou oupa Stoffel vir my en my sussie skyfies gewys het van die wêreld se groot kunswerke. Enige iets van Rembrandt tot Dali is vertoon. Ek het ook Magersfontein, o Magersfontein gelees in die dae tot dit nog ’n verbode boek was. (Ek het niks verstaan nie!)

Dus. Dankie, NP van Wyk Louw. Jy het aan my ’n oupa en ouma besorg wat ’n liefde vir lees aan my ma, Marianne, oorgedra het. Stoffel en Miep het verder baie gedoen om my te laat lees.

Was dit nie vir NP van Wyk Louw en Sheila nie, sou my ma in Nederland agtergebly het en haar kinders sou Kasies gewees het, wat waarskynlik niks van die Afrikaanse letterkunde sou weet nie!

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page