top of page
  • Uitmelkbos

NOG ‘N GRIEKWASTAD?

In ’n skokkende wending is Martin Brits (28), seun van die vermoorde ds. Willem Brits (60), in hegtenis geneem weens die wrede aanval Donderdagaand in die pastorie.

Die pastoriemoorde op Harrsimith lewer vandag ‘n boeiende joernalistieke vergelyking op.

Die Burger berig ‘n “nabye familielid” is in hegtenis geneem.

Beeld berig “‘n seun” is vas oor die moorde op die leraar en sy aanstaande skoonseun en die wrede aanranding op sy vrou. 

Volksblad noem die naam van die seun wat in hegtenis is. Die flits hierbo is geneem van Volksblad se webblad.  

Dit is nie vreemd dat koerante in dieselfde stal nie altyd moeilike besluit eenders neem nie. Die Burger is geneig om die weg van versigtigheid in te slaan – hy loop die reguit pad as ‘t ware.  Beeld verras my nogal vanoggend.  Dis ‘n koerant wat nie huiwer om dapper besluite oor nuushantering te neem nie.

My ou koerant, Volksblad, is nou die land voor met die “scoop”.  Geluk, julle almal. ‘n Oud-redakteur se bors swel van die trots.

Wat vir die waarnemer uit die verre Melkbos opval, is dat Volksblad ‘n nuwe redakteur het, die eerste vrou by A.J.R. van Ryn se lessenaar van Birmaanse kiaat  – een waarby ek ook twaalf opwindende jare gesit het.

Ek is 15 jaar afgetree en sit ver van die vuur.  Ek dink dat Johanna die regte besluit geneem het – ondanks moontlike reperkussies.  Sy moes besef het die Sondagkoerante gaan more die krane oopdraai.  Geen sin om op nuus te sit wat 24 uur later op ander voorblaaie geblaker gaan word nie.  Sy moes ook die klimaat in die gemeente Kerkenberg en op daardie Oos-Vrystaats dorp aan die voet van die Platberg opgeweeg het: die opwelling van intense emosie en waarskynlik ook rou rassegevoelens. Die pastoriepaar  en hul vier aangenome kinders  is/was geliefde mense.

Hoe asembenemend die nuus op Harrsmith ontvang moet word, kan ‘n mens net raai.  Kry daardie skok egter so gou as moontlik agter die rug. Dit is gesonder vir die hantering van die diepe kollektiewe trauma as skadelike bespiegeling en gerugte.  Hoe ook al, Johanna, jy het gou in daardie warm stoel jou spore verdien!

‘n Aspek wat ook boei, is dat sowel die Harrismith-moorde as die Griekwastad-moorde in Volksblad se lesersgebied was.  Die Griekwastad-gesinsdrama het enorme uitdagings aan Volksblad gestel. Hy het met eer uit daardie neerdrukkende oefening getree. 

In hoe ‘n mate sy ervaring met Griekwastad se netelighede Volksblad se mense geslyp het om met Harrismith ferm raak te vat, is ‘n antwoord wat net uit Bloemfontein kan kom. Dat dit ‘n faktor moet gewees het wat daardie koerant weer in die joernalistieke resies voor geplaas het – ook voor sy twee groter en bekender  susters –   is egter onteenseglik, meen ek. 

Kom ons haal almal ons hoede vir Johanna van Eeden en haar span af.   

.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page