top of page
  • Izak de Vries

Nog iets oor “appies”

Ek het duidelik ’n aar raakgeboor hier. Ek wens egter dat ek met meer gesag kon praat oor die onderwerp, maar ek vrees ek is self nog redelik in die donker hieroor.

Ek sal aan Melt voorstel dat ons dalk vir Dr Florus Prinsloo vra om lig op die onderwerp te gooi. Hy was tot onlangs in die departement van Arbeid en is tans verbonde aan die Seta vir mynwerkers.

Hoe ook al, daar was interessant kommentaar op my vorige skrywe en ek wil graag kommentaar lewer daarop.

Petrus Pap was eerste:

Izak , die Setas is 'n absolute en totale gemors. Die geld word opgeslurp deur burokrate, en gaan nie vir opleiding nie.

Ag, nee, Petrus! Ek het dan die ander so lekker geëet op die MerSETA se onkoste!

Op ’n ernstiger noot: Helaas, ja. Dis juis die punt. Hulle kon sweerlik ’n appie se eerste jaar betaal met die kos wat daardie dag uitgedeel is!

Op ’n positiewer noot moet ek sê die nuwe wette wat verlede week gepromulgeer is, waarvan die Skills Development Act een was, wil lyk of hulle die geld beter gaan beheer, lees byvoorbeeld Hoofstuk 3 afdeling 14, 14A en 15 in dié verband.

Om die wet te lees, kliek hier:

Petrus Pap het ook gesê:

Verder, die ou tegniese skole bestaan nie meer nie. Kyk of iets soos houtwerk êrens in 'n skool aangebied word ...

Nog eens reg. Die idee is egter dat die FET Colleges hierdie rol moet oorneem. Ja, daar is tans baie probleme met die kolleges, maar die vak “Carpentry and Roofwork” se kurrikulum is die ander dag heeltemal hersien en gaan nou van vlak 2 (Graad 10) tot vlak 4 (graad 12) aangebied word.

Lorinda het gesê:

Is daar iets soos 'n apprenticeship sisteem in SA? Dit blyk steeds die beste of mees koste effektiewe metode te wees. Baie interessante skrywe.

Lorinda, daar is tans beslis apprenticeships, maar na die vorige regering besluit het om die opleidingskolleges van die spoorweë, en dies meer, toe te maak, het die aantal mense wat ’n ambag voltooi het, drasties gedaal.

Ek is ongelukkig nie die regte persoon om te vra nie, maar as jy die wet wat ek hierbo genoem het nagaan, sal jy sien hoofstukke 4 en 5 maak voorsiening vir leerlingskappe en ander vorme van indiensopleiding.

Daar is tans nog onsekerheid oor die presies aard van ’n “leerlingskap” en hoe dit van ’n vakleerlingskap (die “appie-stelsel”) verskil, maar die idee is baie beslis dat daar meer geld en tyd spandeer gaan word aan opleiding binne en buite die werkplek, maar veral dat opleiding in diens van ’n maatskappy uitgebrei moet word.

R300 000 vir n enkele persoon??!!!

Wel, dis nie mý syfers nie, maar dink ’n bietjie aan iemand wat opgelei word op baie duur metaalwerkmasjiene. Of dink aan die hoeveelheid beton wat iemand in die konstruksiebedryf moet gebruik – om nie te praat van die hout en die aluminium wat gebruik word vir die skutte om beton in te plaas nie! En dan is daar die staal wat as versterking moet dien ...

Of dink aan die prys van hout en hoe duur dit nie moet wees om ’n skrynwerker op te lei nie.

Dorina sê toe:

Dit is darem snaaks ek kyk soms na bv van die sekuriteitsmense wat 'n paar maande leer (die meeste) en dan sulke salarisse kry omdat hier tans in ons omgewing te kort by myne is aan sekuriteitsmense. Dit gaan maar oor te kort en aanvraag, né?

Korrek, Dorina. En dis die punt, daar is tans besonder goeie geleenthede vir jongmense, ons moet net wegkom van die idee dat ’n graad jou outomaties gaan laat werk kry.

Ek het niks teen grade nie, maar ek wil baie graag dat ons jongmense die waarde van praktiese opleiding sal besef, maar meer nog, dat ons (as ’n samelewing) sal ophou neersien op mense wat met hulle hande werk. Ons het sulke mense verskriklik nodig.

2 views

Recent Posts

See All

Комментарии


bottom of page