top of page

NOEM MY DOKTOR, KAMMA-KAMMA

Uitmelkbos


Hope mense wêreldwyd – beslis ook in Suid-Afrika – vaar onder valse vlae met titels, grade, kwalifikasies, eretoekennings en vergulde sertifikate wat hulle nie in die sweet van hul aanskyn of uit voortreflikheid verwerf het nie.  Hulle het, om dit brutaal te stel, in harde kontant daarvoor betaal.  

Rapport se onthulling van sukkelaar-munisipaliteite se duur buitelandse bekronings (Sondag 18 Mei) is inderdaad maar die spreekwoordelike oortjies van die seekoei.  Krap gerus dieper aan die verskynsel; dit kan ‘n vrugbare oefening word. 

‘n Goeie beginpunt sou wees om ‘n lys te maak van elkeen wat deur die sogenaamde “American Biographical Institute” in Raleigh, Noord-Carolina en die “Cambridge Ministry Church Institute”, ook van Amerika, “vereer” is.  Sulke “institutes” en “associations” en is soos hare op ‘n hond se rug.  Hierdie twee is van die aktiefste entrepreneurs in hierdie veld, albei met ‘n sorgvuldig vertroetelde skyn van geloofwaardigheid.

Wees veral suspisieus oor vererings soos die volgende: “International Men of the Year,” “Most Admired Men of the Decade” of “Outstanding Men of the 21st Century”.

Van tyd tot tyd word skandale oopgevlek van mense wat via hul beursies  vir hul CV’s (en hul openbare beeld) meer lyf “verwerf” het.  In China is die president van Microsoft so uitgevang. Hy het vir hom ‘n Ph.D aangeskaf. In Amerika en elders word valse “professore” meermale deur verleë inrigtings oneervol van hul status gestroop.

Name sal nie uit my gewurg word nie, maar ek ken persoonlik Suid-Afrikaners wat voorgee om te wees wat hulle nie is nie.  Dit sluit top-sakelui in … en selfs akademici.  Ek het al in ‘n universiteitsblad gelees hoe tamboer geslaan word oor ‘n jong geleerde se insluiting op die lys van die “Honderd voortreflikste jong wetenskaplikes” ter wêreld.  Die naam “Biographical Association” het verklap dat dit ‘n slenterslag is.

Jy kom sulke bekronings op die vreemdste plekke teë – tot in pretensieuse biografieë uit die pen van geleerdes van wie jy beter insig verwag as om aansprake te sluk dat die betrokkene een van die “Five hundred most influential persons on earth” sou wees. 

In sommige gevalle laat mense hul dalk uit naïwiteit mislei dat hulle vir sulke buitengewone hoë erkenning raakgesien is. In die meeste gevalle is dit egter sterk ego-verwant. Dis lekker om ‘n deftige sertifikaat teen jou kantoor se muur op te hang en so ‘n “gesogte” inskrywing op jou CV by te voeg.

Ek gryp hierdie bewerings nie uit die lug nie. Dit het ‘n soort stokperdjie geword om vererings met ‘n reukie uit te snuffel en in die mou daaroor te lag nadat ekself in die jare 80 uit die bloute genooi is om teen die betaling van ‘n “registrasiefooi”  as “uitstaande bedryfsleier” van die eeu erken te word.  Hoe meer ek sou opdok, des te deftiger sou my sertifikaat en des te omvattender my packet van eergewyse wees. 

My naam sou selfs  vir ‘n “small extra fee” vermeld kon word in ‘n boek met die titel, as ek reg onthou, “World Book of Knowledge”, leergebonde nogal.  Gelukkig het my aanvanklike  (jeugdige) gevleidheid vinnig voor verstandiger insigte verdamp.

Het iewers gelees op die internet is oor die 200 kamma- “universiteite” waar jy jou inkoop-“mandjie” met grade na smaak en behoefte kan gaan vul … en daarvoor met jou kredietkaart betaal.  Met R10 00 kan jy onder die grade kies en keur.  Vertroulikheid word streng gewaarborg!

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page