Die selfoon kry skielik lewe in my hempsak. Dit bir-bir en tril asof iets dit gebyt het. Dis die aankondiging van ‘n boodskap op die doodgewone, ortodokse manier, soos die Nokia-tjie “uit die boks gekom” het.
Op die skerm word aangedui ek moet 100 skakel, wat ek terstond doen.
Iemand trek los met ‘n monotone njo-nj-njo-gemompel. Al wat ek hoor, is my adres, Penguin Place 11, ‘n tyd wat klink soos 3:15, en ‘n afgerammelde nommer om te skakel waarvan die laaste die syfers in gorrelende onhoorbaarheid verdrink.
‘n Tweede, derde en vierde poging is ewe vrugteloos. Tokkie moet help. Maar die njo-njo-njo en die gorrelgeluid ten slotte slaan haar ewe dronk.
Gelukkig is ons in ‘n groot sakesentrum. My diensverskaffer, MTN. het daarin ‘n dienssentrum met ‘n ry hulpvaardige konsultante agter ‘n lang toonbank. Ek beduie my probleem vir nommer vier. Die jong man glimlag bemoedigend vir die bedremmelde oubasie.
Ek sien hoe sy glimlag verstar toe sy eie ore die werklikheid van die beweerde onontsyferbaarheid tot hom laat deurdring. “Nee,
meneer”, hulle het g’n wondermasjien wat sulke koeterwaals kan deurpriem om die ware bedoeling daarvan te ontbloot nie.
Nou loop ek maar die hele dag en wonder, en verknies my daaroor dat dit moontlik ‘n belangrike boodskap kon wees.
Gelukkig is ons 3: 15 (eintlik 15:15) tuis. Ek wag dat die voordeurlokkie lui. “Penguin Place 11, 3: 15 … njo-njo-njo,” sien. Niks gebeur nie.
Ek skakel weer 100. Die geheim bly onontrafel.
Seker die 20ste keer toe ek die Nokia verbete teen my oor druk, luidspreker oopgedraai, hoor ek vaagweg iets van “Armed Response”. ‘n Vermoede vat pos, wat deur ‘n geskribbelde nota’tjie in die posbus bevestig word. Om 09:15 is die alarm ge-aktiveer.
Gelukkig was dit nie ‘n inbraak nie – alles is mooi op hul plek.
Maar ek sou darem graag vroeer wou geweet het – al was dit net om ‘n buurman te bel.
Waarom praat sommige mense op selfone of hul warm aartappels in die kies het? Waarom rammel hulle hul kontaknommers af of hulle mededingers in die een of ander spoed-praattoets is?
Hierdie vrae stel ek beleefd toe ek die sekuriteitsfirma skakel en by ‘n besorgde meisie met ‘n helder stem en verstaanbare aksent uitkom. Dit, meen sy, is so ‘n ernstige saak dat dit by die “management” gerapporteer sal word as ek wil.
Ek wil.
Dit was die laaste hoor van die blik-konfoor
Comments