top of page
  • Uitmelkbos

NIL PER MOND

“Nil per os” of “Nulla per os” is een van die newe-onplesierighede van die ure voor ‘n operasie wat my sommer al lank vooruit begin kwel.

 Laat my maar erken (spog?) at ek ‘n bedorwe brokkie is wat, met enkele onvermydelike uitsonderings, sy koffie in die bed kry solank die Van Deventerhuwelik duur. Op 31 Desember vier ek en Tokkie ons 47-jarige huwelikstrou.

 Selfs toe ek in die jare 60  hoofsub van Die Volksblad was en op Saterdae teen vieruur moes roer om die wiele vir daardie dag se uitgawe aan die gang te sit, het Tokkie, winter of somer, met die eerste lui van die wekker sonder slag of stoot uit die bed gevlieg om die koffiewatertjies te begin kook.

 Die Volksblad was daardie tyd nog ‘n middagkoerant. Die eerste, plattelandse uitgawe  het  gesak voor die wintersonnetjie nog kon deurbreek. Teen agtuur kon ons in die subkantoor agteroor sit en rustig weglê aan die gebraaide kaasbroodjies ex Grinters skuins oorkant die straat op die hoek. Dit net ter verduideliking vir jonger kollegas wat nie daardie voor-hoenderkraai-koerantmakery ooit ervaar het nie.

 Vir “Nil per os”, “Nulla per os”, albei Latyn, of  “Nil per mond” (vermenging van Afrikaanse en Latyn)  is ek so lugtig soos ‘n rooibokkie vir ‘n luiperd wat in die lang gras aangesluip kom in die Wildtuin. Hoe sal ek uithou? Dis altyd  ‘n wroegende kommer in die Van Deventerhart.

Terwyl ek hier skryf (08:30) sou ek al in my saal in die Panorama Medi-Clinic gewees het – besig om soos ‘n lam ter  slagting voorberei te word vir die lank uitgestelde heupvervanging.  Maar eers om 14: 30 sou ek teater toe.

 “Nil per mond”, sou dit boonop moes wees – met ‘n keel so droog soos die dorste kurk dus,  en ‘n smagting na ‘n lekseltjie koffie soos ‘n alkoholis vir ‘n dop.

 Woensdag steek die internis ‘n stokkie (tydelik) voor die operasie om redes wat nie hier ter sake is nie.  Vanoggend begin ek om 06:00 rusteloos raak. Tokkie snap die wenk.  Sy gly uit die bed en keer terug met die stomende koffie en my koerant.

 Koffiekapitaal – veral in die biezondere omstandighede van hierdie Maandag 9 September. Die koffie proe so genotvol soos ‘n skelm vrytjie – of ek die chirurge en hul narkotiseurs, susters en wie nie almal nie, hierdie keer netjies uitoorlê het.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page