top of page
  • Uitmelkbos

NIE NET ‘N SKIL OF ‘N BLIKKIE

‘n Ou koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie. As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil, ‘n sardiensblikkie of ‘n plastieksakkie nie.

Onder koerantpapier kan jy slaap. Jy kan dit vir honger donkies voer. Jy kan jou vis en tjips toedraai. Jy kan die hond se plassies opvee. Jy kan vuur maak en ruite was. Jy kan bevrore vleis koud hou op lang ritte. Jy kan die papegaai se hok uitvoer. Die nut is amper onbegrens.

Kollega Johan van Wyk het ‘n keer ‘n nogal uitvoerige studie gedoen oor waarvoor ‘n ou koerant alles deug. HY kom toe tot die insigryke gevolgtrekking dat dit op een plek werklik tot sy reg kom: “In die kleinhuisie met die boerpampoene op die dak. “Nệrens lees jy lekkerder in ‘n ou koerant as daar nie.”

Johan kon bygevoeg het: Nệrens is jy dankbaarder oor die beskikbaarheid nie as wanneer jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek. Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.

Ek hoor graag van ander vindingryke idees. Hier egter drie aanwendings wat vir die uwe nuut en oorspronklik was.

Nommer een is die sogenaamde Paper House in Pigeon Cove, Massachusetts. Die hele huis en sy inhoud bestaan uit ou koerante, hoofsaaklik uit Boston. Sowat 100 000 eksemplare is vir die doel gevou of gerol. Die volledige takie het 20 jaar in beslag geneem.

In die woonkamer staan ‘n klavier – ‘n uitnodiging vir iemand wat kan om die klawers met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” te gaan tokkel. Daar is ‘n radio in ‘n outydse kabinet. ‘n Boekrak is gemaak uit buitelandse koerante en ‘n oupastaanhorlosie uit koerante van die hoofstede van die Amerikaanse deelstate. ‘n “Nuuswaardige” lessenaar is uit koerante met die nuus van Charles Lindberg se epiese vlug.

‘n Koerantman voel so tuis, jy wil sommer dadelik sak en pak intrek en begin lees!

In die Suid-Tiroolse vakansiestadjie in die Alpe Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit: ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Die struktuur het HvD verdwerg – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg!

Die foto’s is bedoel om kreatiewese te prikkel om daardie stukkie Tiroolse vindingrykheid na te aap. Laat dit ‘n uitdaging wees.

Van nader tuis is die pragtige tabberdjies wat vir die Kovsies se joolkoningin en eerste prinses aangetrek is ter viering van Die Volksblad se verskuiwing na die oggendgleuf op 4 Maart 1991. Mooier “uitgawes” was daar gewis nie in my tyd as hierdie aan die mooi lyfies van Liezel le Riche en Almie Cloete nie. By hulle is Die Volksblad se Alta Beetge wie se breinkind die mode-ding was. (“Haar rokkie het ‘n skeurtjie in en almal kyk daarna …”)

5 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page