‘n Mens kom soms by die punt waar jy voel: Laat Gods water maar oor Gods akker loop. Vandag is een van daardie dae. Wat maak dit tog saak dat Beeld ‘n jaar nadat Derick van der Walt se “Lien se Lankstaanskoene” verskyn het, eers ‘n resensie daaroor plaas? Dit maak mos nie saak dat dié boek die Sanlamprys vir jeuglekteuur (2007) gewen het nie! Dalk het dit iets te make met die feit dat die boek pas bekroon is met die MER-prys vir jeugromans? Lees Beeld en gesels eers aanstaande jaar saam. En wat maak dit tog saak dat Marida Fitzpatrick plegtig verklaar (in Beeld) daar niks nuuts staan in Chris Karsten se “Charlize – Ek leef my droom” nie? Terwyl sy duidelik laat blyk dat sy bewus is daarvan dat hy met familielede, onderysers en vriende van Charlize Theron gepraat het en dus wel iets nuuts opgediep het? Dis tog maar net nog ‘n tjol-resensie deur nog ‘n joernalis wat van beter moes geweet het as om so ‘n onbekookte stuk bladvulling aan te bied vir publikasie. Die jongste inligting wat op die internet beskikbaar is oor boekverkope in Suid-Afrika dui daarop dat uit elke tien fiksie-boeke wat verkoop word, slegs 2,7 plaaslik gepubliseer is. By nonfiksie is dit darem 6 uit elke tien wat plaaslik gepubliseer word. Ek veronderstel ek behoort daarom bly te wees dat net twee uit die vyf resensies op Die Burger se boekeblad vandeesweek handel oor boeke wat vanuit Londen ingevoer is. Van die ander drie is een oor fiksie (Ilza Roggeband se onmerkwaardige bespreking van Irma Joubert se jongste roman, “Anderkant Pontenilo”) en twee oor nonfiksie (Amanda Gouws oor “Breaking the Silence”, en Le Roux Schoeman oor Karin Eloff se “Stiletto”). Albei laasgenoemde boeke lê my na aan die hart, omdat hulle uit verskillende hoeke kyk na die omvang van geweld, en spesifiek die geweld wat gepaard gaan met seksuele uitbuiting, teen die moderne vrou in Suid-Afrika. Maar dit spyt my om te berig dat Amanda Gouws se resensie té koel en feitlik is om enigiets anders as “Ja, en is dit al wat jy wou sê?” by my te ontlok. Daarteenoor is Le Roux Schoeman se resensie van “Stiletto” ‘n vreugde: Hy het ‘n eie stem, ‘n eie mening, ‘n fyn humorsin, en ‘n streng oog. Dit is ‘n onverdunde plesier om só ‘n resensie te lees – uiteindelik iemand wat krities en oorspronklik reageer. En dan is dit boonop ‘n man wat só skryf! Dankie mnr. Schoeman, maar wat die res betref, kan Gods water maar wel oor Gods akker loop vandeesweek.
Uitmelkbos
Comments