top of page
  • Uitmelkbos

NIE LUI BY DIE LIEFDE



Vurige minnaar

Die kleurryke senator Paul van Zyl van Ceres is teen sy sin saamgesleep na ‘n sogenaamde “live show” in Soho, Amsterdam, Hamburg of een van daai plekke. Ná die tyd wil sy vriende weet: “En toe, Oom Paul?”

Hy oorweeg sy antwoord lank. Toe kom dit: “Daardie maer kêreltjie is nie juis aansienlik nie, maar hy’s ‘n toegewyde werker, hoor!”

Die storie kom by my op toe ek Eric van der Walt van Sabiepark se heerlike weergawe lees van die luiperdplesier wat hulle op ‘n langse besoek by hul huis, erf 231, Wildevy, beleef het.

Van die luiperd-minnaar in daardie “live show” kon jy darem nie sê hy’s onaansienlik nie. Hy’s ‘n fris, atletiese meneer met ‘n glansende kollepels en ‘n dik nek soos ‘n rugbystut. Ek vermoed dis die ou op die foto bo, wat ek ‘n vorige keer in dieselfde lopie afgeneem het. En dis ‘n indrukwekkende eksemplaar van die spesie Panthero pardus.

Uit Eric se vertelling, wat ek hier met sy toestemming, woordeliks aanhaal, staan dit soos ‘n paal bo water (as dit in omstandighede ‘n gelukkige idioom is!): ‘n Luiperd is geen lui perd as dit by die liefde kom nie! Toewyding – en entoesiasme – ontbreek allesbehalwe.

Eric laat weet uit Bethal:

“Ek en my vennoot Gerrie Cronje en ons twee se vrouens was die naweek van 7 tot 9 Oktober 2011 in Sabiepark en het ‘n wonderlike ervaring gehad.

“Ek en Gerrie was Vrydagaand so net voor 6 besig om vuur te maak by 231 by die lapa aan die voorkant van die huis toe die twee vrouens, wat in die huis doenig was, ons dringend kom roep.

“Ons is die huis in tot by die gaasstoep aan die agterkant van die huis wat uitkyk op die lopie wat agter langs die huis verby loop. Hulle wys ons toe ‘n groot luiperd wat in die lopie (sandsloot), lê en wegkyk van die huis af, seker so 50 meter van die huis af.

“Die vrouens het vinnig ons verkykers gaan haal. Omdat dit toe al skemer begin raak het en ‘n mens nie mooi deur die gaas kan sien nie, het ons saggies uitbeweeg en voor die stoep gaan staan.

“Toe ons mooi deur die verkykers kyk (die lopie is ook dig begroei en maak dit nog donkerder) sien ons hierdie groot luiperdmannetjie (die een met die dik nek soos ‘n stut, soos jy (dis nou eke – HvD) vroeër gesê het) en by hom lê ‘n jong luiperdwyfie heelwat kleiner, skraal en lig van kleur.

“Hulle begin toe speel en begin toe paar met ‘n helse gegrom en gebrul van die mannetjie. So het ons staan en kyk totdat dit so donker was dat ons nie meer kon sien nie.

“Naby die twee luiperds was daar ‘n groot hiëna wat kort-kort mik om nader aan die luiperds te kom. Dit het ons laat vermoed dat daar kos by die luiperds was, hoewel ons niks kon sien nie. Elke keer as die hiëna te na aan die luiperds kom, dan draai die luiperdmannetjie om en kyk vir die hiena. Dan gee die hiëna pad.

“Toe dit donker word, het ons ons hout en kole in ‘n Weber gepak, die fakkels gedoof en reg in die voordeur gebraai sodat ons net by die huis kon inspring as die luiperds dalk kom kyk wat aan die voorkant van die huis aangaan.


“Terwyl ons die vuur in die Weber laai, kon ons duidelik hoor hoe die luiperd aan die anderkant van die huis brul en tekere gaan.

“Ons het toe maar op die voorste gaasstoep geëet (die gaasstoep teen die pad waar jy (weer eke – HvD) altyd verbystap). Die twee luiperds se manewales het aangehou tot hier by 10 uur die aand. Toe het ons gaan slaap.

“Elke 20 minute tot ‘n halfuur dan begin die luiperdmannetjie so laag grom en dan werk hy op tot hy eindig by ‘n harde gebrul.

“Vir ons was dit ‘n een-keer-in-‘n-leeftyd- ervaring om hier teen ons huis deur die twee luiperds getrakteer te word vir so ‘n lang tyd. “Die volgende oggend was die luiperds weg maar die hiëna was nog daar in die sandsloot. Ons het die wêreld daar deeglik bespied met ons verkykers, kon geen teken kry van die luiperds of enige vangs nie. Ons vermoed die hiëna het alles geëet wat die luiperds daar gelos het.

“Ons kon ongelukkig nie enige foto’s neem nie omdat dit al skemer was die Vrydagaand toe ons die luiperds vir die eerste keer gesien het.

“Ek moet jou sê ‘n man kan baie leer by ‘n luiperdmannetjie. Hy gaan deur as ‘n stil en skugter roofdier maar as dit by die liefde kom, is hy verwoed en sit hy ‘n groot “performance” op – dis soos die Hollanders sê: “Dan gaat je brein na je bal”.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page