Hiermee, met die nodige ekskuse, twee (skurwerige) grappies met karname wat ek gehoor het by kollegas met diep wortels in die motorwêreld, Leo Kritzinger en wyle Fred Schnetler. Dit is ‘n uittreksel uit my blog oor TJORRE MET TITELS by hennievandeventer.com
Hier is Leo se grappie (ietwat gesensureer):
Oom Kallie en Tant Anna, wat hulle hele lewe lank geboer het, trek op hul oudag na ‘n meenthuisie in die stad. Alleen deur die lewe. Nie kind of kraai nie. Baie hartseer saak. Dis nou nadat hulle alles verkoop het: plaas, trekkers, bakkies, vee, sommer die hele spul.
Na ‘n maand in die stad sê Tant Anna vir Oom Kallie: “Ag nee, ou Kallie, ek dink ons moet vir ons ‘n klein motortjie koop. Ons kan nie net hier sit en vergaan nie! Ons moet darem kan rondry en plekke sien!”
“Reg so,” antwoord Oom Kallie wat ‘n groot Ford-man was. Hy maak toe die koerant oop by die “klein advertensies”, lees “Escort Agency” en skakel sommer dadelik die nommer.
Oom Kallie: “Dagsê, dame. Het julle enige Escorts en hoeveel kos hulle?”
Dame: “Ja, meneer, ons het. Hulle wissel tussen so R200 en R 250.”
Oom Kallie: “Magtie, my meisietjie! Hulle het seker hard gewerk. Is daar van hulle wat darem nog kan loop?”
So lui Fred se storie:
Die student se meisie het swanger geword en die tyd het aangebreek dat hulle haar ouers die interessante nuus moet vertel. Toe hulle die Vrydagaand op die pa se indrukwekkende plaas opdaag, het hulle niks gesê nie, maar gewag tot later wanneer die oomblik geskik is om die nuus oor te dra.
Die volgende oggend het die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man beïndruk was, hom die plaas gaan wys. Ná ‘n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek was ‘n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers het netjies op ‘n ry gestaan en in die skuur langsaan was twee Toyota Hino-vragmotors.
In die motorhuis was ‘n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ‘n Corolla.
“Oom glo in die Toyota,” sê die student.
“Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.”
Eenkant staan ‘n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “500 000 kilometer op die klok en hy vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond.
Dis toe die student ‘n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?”
“Nee, hoekom vra jy”
“Ag Oom, ek het haar net so ‘n ligte ou stootjie gegee, toe vat sy!”
Comments