top of page
  • Uitmelkbos

NET LIEVEN HEER WEET

As dit by moderne poësie kom, kan ek nie eintlik saamgesels nie. Veel daarvan is vir my duister. Soms wil-wil ek wonder of die digter (en die liriese resensent!) self weet wat hul skeppings beteken.

Eintlik is dit onbillik om net moderne poësie uit te sonder. Ook van die ouer digters kon jou laat kopkrap oor wat hulle probeer oordra.

So vertel vriend Danie Krynauw, oud-burgemeester van Milnerton en deesdae ‘n inwoner van die Sea Park-versorgingsentrum op Melkbos, vir my vanoggend ‘n N.P. van Wyk Louw-storie wat verdien om iewers behoue te bly. (Of my blog die aangewese plek is, is ek nie so seker van nie!)

Danie, bekend om sy humor en geestigheid, vertel hy is met ‘n nuwe Van Wyk Louw-bundel na die gevierde digter se woonstel in Drieankerbaai.

Hy klop aan, stel hom voor en deel mee dat hy graag ‘n vraag wil stel.

“Seker, seker”, gee Van Wyk Louw hom die groenlig.

“Wel, dr. Louw, dis oor hierdie gedig van jou.” Danie druk toe op op ‘n gedig met twee verse van vier strofes elk. Die naam kan hy ongelukkig nie onthou.

“Ek het gedink ek moet liewer by u self duidelikheid kom soek, want ek verstaan nie die gedig nie. Sê tog asseblief vir my wat beteken die woorde wat hier staan?”

Van Wyk Louw kyk hom fronsend aan.

“Mnr. Krynauw,” antwoord hy, “toe ek die gedig geskryf het, het twee geweet wat dit beteken: die Lieven Heer en ekself. Nou weet net die Lieven Heer!”

Laat my dink aan kleinseun Thomas Claassens wat een aand ná ‘n slangbesoek by die braai in Sabiepark die tafelgebed doen. “Dankie, Here, dat die slang nie marakas gemaak het nie,” bid hy.

“Thomas,” terg sy ouma toe hy amen sê: “Dink jy die Here weet wat die word marakas beteken?”

“Natuurlik, Ouma,” kom dit blitsvinnig. “Die Here ken al 11 ampstale.”

Blykbaar ook alle gedigte – volgens N.P. Van Wyk Louw.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page