top of page
  • Uitmelkbos

NET EEN LINKERHAND!


‘n HYSBAK ruk stotterend tot stilstand tussen twee verdiepings.  Ingehok met vreemdes of stoksielalleen hang jy hier tussen hemel en aarde. Dit is die stof waarvan nagmerries gemaak is.

 Tussen ‘n klomp mede-prisoniers kan komplikasies opduik soos oorweldigende sweet- en ander reuke (dalk het iemand knoffelhappies geniet!), dalende suurstofvlakke, histerie, onbeheerbare drang om te piepie … die lys is eindeloos.  As jy alleeen is, dreig eensame, honger, koue, uitmergelende ure.

 Gister, aan die vooraand van sy 80ste verjaardag, kry Danie Krynauw, oud-burgemeester van Milnerton, die kans om sy mede-Probuslede (‘n sosiale klub vir afgetredenes) toe te spreek oor die onderwerp: Wie is Danie Krynauw? (Almal kry ‘n beurt. Ek sal ook nog moet vertel wie HvD is – ‘n taamlik uitdaging!)

 Danie vertel die klub toe in die tyd dat hy private sekretaris vir Kaaplandse administrateurs was (o.a. Lapa Munnik) het hy een laat Vrygdagmiddag in die winter in ‘n hysbak vasgesit en die paniekknoppie gedruk.  Dit was al pikdonker in die regeringsgebou, en doodstil.

 ‘n Ou het oor die interkom gevra wat skort. Danie het benoud geantwoord dat die toestel tussen twee verdiepings gaan staan het.  Toe sê die ou: “Moenie ‘worry’ nie, sir, dis nou al laat en die mekennieks is algar al huis toe vir die naweek. Maar sir moet net nie ‘panic’ nie. Ons sal Maandagoggend ‘first thing’ vir sir kom uithaal.”

 Danie het nie vertel hoe lank hy moes sit nie.  Of die storie met ‘n knippie sout gevat moet word, weet ek nie. Met Danie weet ‘n mens nooit.

 Hy het byvoorbeeld ook vertel van die die mooi preek een Sondag waarin Melkbosse lidmate opgeroep is om ná die uitspreek van die seën na iemand te stap en vir dié te vertel wat jy in hom of haar waardeer.

 Danie (hy is Danie 2) sien hoe sy klubvriend Danie 1 of te wel Danie Grundlingh na hom aangestap kom.   “Danie, ou maat,” knoop Danie 1 ‘n gesprekkie aan: “Ek het lank gedink aan iets wat ek in jou waardeer … maar ek kan werklik aan niks dink nie!”

 Wens ek kon Danie 2 se gesig gesien het. Gewoonlik is hy die een wat poetse bak.  

Sy Probusmaats was nie verras nie toe hy ook vertel van ‘n besoek aan mnr. J.P. Theart, wat skoolhoof op Beaufort-Wes was, in ‘n tehuis vir bejaardes.  Mnrt. Theart was toe al amper 90 jaar oud en het Danie nie herken nie. Maar toe hy hoor sy besoeker is Danie Krynauw het hy dadelik gereageer:  “Jy was die onnutsigste mannetjie wat ek as onderwyser teëgekom het.”

Hy is dit waaragtig steeds, mnr. Theart. Op tagtig – die eerbiedwaardige ouderdom wat hy Maandag 10 Desember bereik. Luister tog maar fyn as dié vent vir jou stories begin vertel soos van die arme vrou wat net een linkerhand het of die pous se vrou wat pas oorlede is …..

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page