top of page

NESSUN DORMA X3

Uitmelkbos

As ek my verbeelding oortyd laat werk. kan ek sekere scenario’s optower waarin middernagtelike besoeke welkom, en selfs opwindend, kan wees. Meesal beteken dit slegte nuus – veral namate ‘n mens ouer word en die potensiaal vir speelse verrassings verklein.

Hier by Penguin Place 11, Melkbosstrand, was kort op mekaar se hakke drie onthutsende nagbesoeke, elk met sy eie negatiewe ondertone en emosionele reaksies.

Nommer een is aangekondig deur die dringende gelui van die voordeurklokkie om 13:00. Ek is vervaard uit die lakens. By die voordeur tref ek ‘n hulpvaardige sekuriteitsman aan, flits in die hand, rewolwer aan die heup; oorgehaal vir aksie.

Hy’s verbaas om my verbasing waar te neem. Ek het hom dan ontbied. Nee, ek het nie. Dis mos Penguin 8. Nee, dit is nie, dis Penguin 11 – daar staan dit lewensgroot teen die muur (foto). Jammer meneer.

Wawyd wakker is ek toe, vir ure, en vies – natuurlik.

Nie lank daarna nie gaan die sekuriteitslig op die voorstoep om 0:200 aan en bly aan. Gewoonlik is dit ‘n rondloperkat of die tak van ‘n tuinstruik wat die lig aktiveer. Maar dan is hy aan en vinnig weer af. Hierdie keer bly hy onheilspellend aan.

Insomnia pla soms op die regte tyd. Ek snap dadelik dis iets anders as ‘n kat of ‘n tak op die stoep wat die lig so lank maak brand. Die volgende oomblik verskyn ‘n gesig in die gleuf van die gordyn voor die kamervenster. Ons kyk meer as ‘t ware in die oë.

Haai, skree ek hard. Tokkie word wakker en, hoewel onbewus van die aard van die bedreiging, trek sy dadelik ook die krane van haar stembande oop. Die gesig verdwyn. ‘n Rug glip vinnig teen die trappe af.

Eers toe skep ek asem om die paniekknoppie te druk. Die alarm begin skel.

Heelwat later daag die gewapende patrollie op. Die man flits oor die grasperk, met sy beskeie flitslig, en kondig aan die skuldige is seker vort oor die werfmuur.

Daardie treurige ou flitsie is ontnugtering nommer een. Die oppervlakkige ondersoekie ontnugtering nommer twee. Daar is ook ‘n ontnugtering nommer drie en nommer vier. Nommer drie is dat huishulp Lydia deur die hele kommosie rustig voortslaap. Nommer vier is dat van die bure geen kik kom nie – nie eens ‘n oproepie om te vra wat skort dan nie?

Sedertdien slaap ek nog ligter as gewoonlik. Maar juis in die brose staat kom neem ‘n verlore Eskimohond sy intrek in die singeltjie voor ons huis. Of dit uit verlange is na die verre Suidpool of na sy Melkbosse eienaars van wie hy om die een of ander rede geskei geraak het, weet ek nie. Maar hy huil sy nagte om, sonder ophou, hartroerend en uitmergelend. Nessun dorma,die derde maal!

Mense, julle moet hierdie grysaard se oë sien. Soos stukke lewer sit hulle daar in my kop.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page