top of page

“NEGATIEWE” STORIES IN “KOERANT”

Met my gedenkboekie “Koerant”.

Oor fotograwe wat vergeet het om vir kritieke oomblikke film in hul kameras te laai, is hartverskeurende stories in omloop. Manjifieke nuusfoto’s het op hierdie manier verlore gegaan; selfs loopbane is kortgeknip. Twee van Suid-Afrika se grootste vliegrampe het elk ook ‘n kameradrama opgelewer.

In my gedenkboekieen geskenkboekie “Koerant” – aan die vooraand van my 80ste verjaardag oor twee maande – vertel ek van ‘n paar sulke en ander kamera-konsternasies.

Een so ‘n krisis was ná die ramp op die Windhoekse lughawe JG Strydom in April 1968 toe ‘n Boeing van die SAL, die Pretoria, met die opstyging in die grond geboor het, met die verlies van baie lewens. Suid-Afrikaanse koerante het feitlik almal vliegtuie gehuur om verslaggewers en fotograwe na die toneel te haas. Die Transvaler was geen uitsondering nie.

Laat die Sondagmiddag het sy span teruggekeer. Daar was nie baie tyd om foto’s te ontwikkel nie. Toe die nuusredakteur naderhand die fotograaf in die donker-kamer gaan soek, kry hy hom hande in die hare. Geeneen van die foto’s het uitgekom nie. Of lig in die kamera, of iets anders, maar daar was geen enkele opname nie.

**********************

Die enigste adres om die boekie te bekom: http://www.denovowebs.co.za/product/koerant/

***************************

Die tweede was in Mei 1972, met die Republiekfees in Kaapstad, toe drie Mercuriusvliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en beman-ningslede het omgekom. Die eerste fotograaf van Die Burger was verstommend gou op die toneel maar – helaas – met ‘n kamera sonder film.

Omstreeks dieselfde tyd is ‘n Volksblad-fotograaf, Willem van der Walt, in Bloemfontein op eie versoek so in ‘n Lugmagvliegtuig vasgegespe dat hy amper halflyf kon uithang om skouspelagtige foto’s van ‘n massa valskerm-springers van die Valskermbataljon te neem.

Ná al die moeite is agterna dieselfde ontdekking ge-doen: geen film nie! Willem word ook vir ander dinge onthou. ‘n Keer het ons die Kovsie-tamboernooientjies gaan afneem. Die voorste ry sit kruisbene. Dan sien jy tot doer. Willem waarsku: “Pas op, ons sien julle almal se broeke.”

Die Willem-storie wat die koek vat, is ‘n storie oor terte.

Hy en Daan Nortier is in die Suid-Vrystaat en die kollega voer ‘n onderhoud met die plaaslike leraar oor die een of ander fondsinsameling. Die gesprek boei Willem hoegenaamd nie. “Dominee,” val hy sommer met die deur in die huis, “waar’s die terte?” Die leraar was momenteel uit die veld geslaan. Toe antwoord hy, terwyl hy bloedrooi begin bloos: “Ag broertjie, hier is ‘n paar onderwyseressies maar hulle is nou met vakansie!”

‘n Jong kollega – ek onthou net ons het hom Mordegai genoem – het vir hom berugtheid verwerf deur ‘n waardige dame by ‘n geleentheid so aan te spreek: “Haai jy, ou tannie met die rooi rok, staan ‘n bietjie diekant toe.” Die “ou tannie” was niemand anders nie as mev. Lettie Fouché, Suid-Afrika se presidentsvrou!

Gepraat van die tamboernooiens se broeke. Dit laat my dink aan die ding wat Ken Oosterbroek (sic) van The Star oorgekom het. Die aspirant Mej. Wêrelde van 1993 het op die Johannesburg-lughawe aangekom. Oosterbroek, altyd op soek vir ‘n buitengewone hoek, was vir dié okkasie plat op die grond. Dit het nie net ‘n fees van manjifieke bene op sy negatiewe opgelewer nie, maar ook onthul dat Mej. Denemarke dalk ‘n bietjie Skotse bloed in haar are kon hê.

Want toe sy op daardie trappe verskyn, was onder die roekeloos kort mini niks meer as wat ‘n rasegte Skot glo by tradisionele geleenthede onder sy rokkie dra nie.

Die bewysstuk het later by die koerant op ‘n kennis-gewingbord verskyn. Dié episode het tot ‘n amperse opstootjie gelei toe ‘n jong verslaggeefster opdrag kry om te gaan vasstel of ander aspirante hul suidelike dele op soortgelyke wyse koel hou.

Gesteun deur al wat ‘n vroulike kollega is, het sy haar teen hierdie soort “seksisme” verset. Gemoedere was aan die brand en hetige memos het heen en weer gevlieg. Richard Steyn, destydse hoofredakteur, moes van die gholfbaan gehaal word om die vrede te kom herstel.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page