Vriend en vyand is gewoonlik uitermate verbaas as hulle hoor ek is een van daardie agtergeblewe blikskottels wat nie ‘n skottel het nie – braaiskottels, ja, ‘n hele verskeidenheid, maar ‘n DSTV-skottel hoegenaamd nie.
My TV-kykery is dus skraal en die konteks waarin ek oordele uitspreek, bra beperk. Vandag wil ek – TV-agtergeblewene ofte not – egter oor Noot vir Noot iets sê, en ek gaan dit sê.
Noot vir Noot is een van die bloedmin programme waarna ek graag kyk. Veral as ‘n liedjie van die 50’s opduik, klop die “ou oom” die jonger generasie dikwels ver met die spoed van herkenning. Ook met tradisionele Afrikaanse liedjies is ek nogal mededingend. Een aand was dit of Johan Stemmet my voor die TV-stel raaksien toe ek ‘n leidraad eerste ontrafel.
Toe ek triomfantlik uitroep: Saai die waatlemoen … toe draai hy hom so na my en laat waai met: “Jy het hom, Oom!”.
Desnietemin bekla ek vandag hier my nood. Die program het vir my strukturele swakhede ontwikkel met die tyd. Johan Stemmet begin ook blapse maak wat ‘n mens nie van so ‘n gesoute aanbieder verwag nie.
Gisteraand, eindronde van reeks 31, het n waardige wenner opgelewer, Juanita. Ek vat niks weg van haar glorie nie, maar dit moet darem vermeld word: Johan S. het haar op ‘n keer blatant bevoordeel.
Hy stel ‘n vraag en meld hy het dit “spesiaal vir haar ingesluit”, maaindjoe. Toe trap sy klei met ‘n “boyfriend” wat eintlik ‘n “girlfriend” moet wees, en hy kondoneer het. Toe trap sy nog verder klei, en met ‘n gepynigde gesig kondig hy aan hy sal haar minder moet gee as wat hy graag wou.
Ek herhaal: dit is nie wat haar laat wen het nie. Maar die aanbieder mag nie witbroodjies hê nie. Punt.
Die gaskunstenaar was die sangeressie Nadine (en ek gebruik die verkleinwoordjie doelbewus om te beteken wat mense hopelik sal dink dit beteken). Toe moet ons hoor sy is sy gunsteling-sangeres. En sommer ook hoe “stunning” sy vir hom lyk.
Nou-ja, hy ken haar blykbaar van kindsbeen af en mag dan seker maar so ‘n komplimentjie uitdeel. Maar haar sy gunsteling-sangeres noem? Vir iemand wat professioneel met baie ander – en veel gedugter – sangeresse saamwerk, is dit darem ‘n mondvol.
Johan S-aanhangers moet my nou nie te lyf wil gaan nie, maar ek bevraagteken die goeie oordeel agter so ‘n betuiging van uitverkorendheid. Dit val alte veel in die klas van sy gerapporteerde opmerking by ‘n TV-opname met ‘n orkes wat net een lid van die bekende Musiekfabriek insluit – dat hy net “kan sê hoe lekker dit is om saam met ‘n ordentlike orkes te werk.”
Johan van Rensburg het, lees ek in die oggendkoerant daarop net sy hande in die lug gegooi en gelag. Ek gooi ook my hande in die lug, maar ek lag nie. Miskien skort iets aan my humorsin.
Struktureel: dit is bog dat ‘n mens in ‘n program wat kennis toets, geld kan wen deur raak te RAAI agter watter nommer dit versteek is. ‘n Raaiskoot kan die wenner bepaal – dis mos gewoon laf.
Die eerste vraag tel verder onbehoorlik baie punte. As iemand daar gly, is dit bitter, bitter moeilik om in te haal, soos die arme vrot-van-die-verkoue-meisie van Durban gisteraand moes agterkom. Sy het so hees-hees dapper probeer, maar kon net-net nie daarin geslaag om die uitspeelstryd te haal nie.
En mag ek dan maar sê die moeilikheidsgraad van haar vraag was na hierdie kyker se oordeel heelwat hoër as dié ander twee syne – maar dalk is ek dan bevooroordeeld en openbaar ek dat ek my eie witbroodjie in die eindronde van reeks 31 had. Ek was immers ook ‘n Portie (Port Natal, Durban) tot in standerd vyf (in 1952)!
NASKRIF: Ek aanvaar geredelik mnr. S. kies nie sy eie klerekas vir die program nie. Maar ‘n rugbytrui onder ‘n dubbelborsbaadjie? Ek sou botweg geweier het om so ‘n verspotte besigheid aan te trek, want dan lyk daardie trui nog hoeka soos die ene wat die oorle’ Pretoriase rugbyklub Harlekyne in die ou dae gedra het – die ene lappieskombers. Bring vir die harlekyn nog wyn ….
Commentaires