Die brigade natneus-speurders op Kaapstad se lughawe gaan ‘n nuwe vuis teen misdaad bykry, lees ek in Die Burger.
Viervoete wat renosterhoring kan uitsnuffel, gaan hulle binnekort voeg by Percy die Duitse herdershond en Ziggy die labrador wat op plofstof spesialiseer, en Cola die springer-spanjoel wat ‘n dwelm-doring is.
Ditsem! Dis juis gedugte honde soos die voormeldes en koerante se voorliefde om stories oor “die mens se beste vriend” te publiseer, wat gelei het tot die publikasie tien jaar gelede van my hondeboekie, ‘n Vriend vir altyd (Human & Rousseau, 2000).
‘n Uitruikstorie in daardie boekie wat my behae verskaf het – wel, al die stories het eintlik! – was van Angus, tweejarige bloedhond, wat altyd sy baas, Nick Harrison van Londen, se rooi pantoffels gaan haal het (getroue ou honne!).
Een Kersfees koop mev. Sue Harrison vir haar man ‘n paar nuwes – baie deftig met ‘n geruite patroon soos ‘n Skotse rokkie.
Die ou paar word in ‘n vullisblik weggegooi, vier kilometer van hul huis af. Maar toe Nick daarna voor die TV skoene wil uitskop, wil Angus niks van die geruite pantoffels weet nie.
Hy verdwyn stilletjies, en loop al agter sy neus aan, oor oop stukke grond, ‘n besige pad en ‘n nywerheidsgebied.
Ure later is hy terug. Die ou staatmakers word, soos voorheen, met voldoening voor Nick neergesit!
Comments