top of page

NAT KOL, MODDERKOL

Uitmelkbos

Moenie van ‘n nat kol ‘n modder kol maak nie, waarsku my Tokkievrou gereeld. Ongelukkig het ek in hierdie opsig ‘n swakheidjie: meermale as ek ‘n penarie probeer beredder, slaag ek net daarin om die penarie te verdiep.

Miskien is dit omdat ek uit die koerante-omgewing kom. Arme koerante kan nogal in hierdie opsig kleitrap.

Die klassieke storie van ‘n nat kol wat ‘n modderkol geword, het ‘n Britse koerant oorgekom wat aan ‘n uitgetrede generaal, met ‘n bors vol dekorasies, paslik hulde wou bring.

Die eerste dag skryf die koerant toe hy was “battle scared”. Die tweede dag, toe die koerant apologie aanteken, berig hy wat eintlik bedoel was, is “bottle scarred”.

Eers die derde dag kry die verlee koerant dit presies reg: “battle scarred”.

Hierdie storie is in my eerste boekie, Scoops en skandes (Tafelberg, 1993), as ‘n voorbeeld van humor in die pers opgeteken. As jyself aan die ontvangkant is, sien jy egter nie die humor raak nie.

‘n Vriendin, Esbe Krynauw van Melkbosstrand, is oorlede en namens die gesin hanteer ek die kennisgewing in die koerant. Ek waarsku: Onthou, Krynauw kry ‘n umlaut op die y.

Tot sy eer, kry Die Burger die umlaut reg. Maar anders as wat die patroon is, skryf hy Krynauw toe in kleinletters, terwyl al die ander vanne op die blad in hoofletters is.

Hoekom, wil ek weet.

Dis die umlaut, beduie die meisie. Hulle het nie so ‘n funksie met ‘n hoofletter-Y nie.

Wel, my rekenaar wat sekerlik minder gesofistikeerd is as Die Burger se rekenaars het wel daardie funksie, skop ek vas.

Later laat weet sy: Nee dis reg. Sy het die funksie gekry. KRYNAUW sal die volgende dag in hoofletters ingaan, met umlaut en al.

Toe staan daar op dag twee: KR*NAUW (met ‘n swart kol waar hier ‘n sterretjie is).

Nat kol, modder kol?

Natuurlik, maar ek aanvaar medeverantwoordelikheid. Die Krynauw in kleinletters was immers beter as Kr*nauw met ‘n swart kol. Ek moes liewer nie gekarring het nie, moes ek?

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

댓글


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page