Twee weke se resensies ….
Tobie Wiese se resensie van ‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange, saamgestel deur Lizette Rabe (Rapport Boeke) verskyn in dieselfde week dat dit rugbaar word dat Koos Bekker, voorsitter van die Naspers-direksie, ‘n ruk gelede dermiljoene rande se Naspers-aandele verkoop het. In my huis, waar die mans meer belang stel in die aandelebeurs as in boeke, het laasgenoemde stukkie nuus meer wenkbroue laat lig as Wiese se resensie.
Sondag oor etenstafel is die saak reggestel. Ek het die resensie voorgelees. Skielik is daar nie meer gepraat oor die boodskap wat mens moet inlees in Bekker se verkoop van Naspers-aandele nie. Wie is Tobie Wiese, is gevra. Ken hy die maatskappy se binnewerkinge? Is hy iemand met ‘n beiteltjie te slyp?
Ek het, sover ek kon, verduidelik dat Wiese ‘n oud-werknemer is, dat hy betrokke was by die beroemde/berugte uitval wat 130 joernaliste met Naspers-hoofbestuur had oor ‘n voorgestelde submissie voor die WVK. En dat ‘n mens kan verstaan hoekom hy in die resensie soveel klem laat val op Ton Vosloo se huidige standpunt, wat eintlik neerkom op ‘n versoenende gebaar jeens die 130 skeibrekers van destyds. (Daar het glo destyds net een Nasperser voor die WVK gaan getuig, ene Jannie van Deventer.)
Vir my gevoel sou Wiese se resensie meer doeltreffend gewees het as hy voorbeelde van die transformasie, waaroor die meeste essays in die bundel handel, in meer kritiese detail kon bespreek het. Nee, sê die mans aan tafel, Wiese se resensie is meer as net ‘n klein seuntjie wat sê dat die keiser nie klere aanhet nie.
Deur te sê dat ‘n Konstante revolusie ‘n soort “Naspers Lite” is omdat dit nie die volle verhaal/waarheid vertel nie, vestig hy net weer die aandag op ‘n feit wat fondsbestuurders, makelaars en sakelui al lankal weet, en dit is dat die media-sy lank nie meer so sentraal staan as die beleggingsy van Naspers nie.
Dit is belangrik dat Wiese daarop wys dat hierdie versameling van essays nie die volle waarheid vertel nie. Aardige ironie, nè? Daardie volle waarheid is nie meer belangrik genoeg om vertel te word nie. Wat belangrik is, is hoe goed dit gaan met Naspers se beste belegging, naamlik dié in China se Ten Cent-maatskappy.
Wiese sê dit nie, maar mens vermoed dat sy uitlig van Ebbe Dommisse se bydrae baie betekenisvol is, dat dit moontlik dié feit in konteks plaas. Maar ons sal seker eers weet presies hóé slim Wiese se resensie geskryf is wanneer mens die boek self gelees het. Hy staan in té min detail by die essays stil. Waarskynlik omdat hy ’n langer, omvattende betoog lewer.
Louise Viljoen het ook afgelope naweek onverwags opgeduik as resensent – altyd ’n welkome naam bo-aan ’n resensie. ’n Waarborg van insig en gebalanseerde betragting. Ingrid Winterbach se nuwe roman, Vlakwater was op die bladsye van Boeke24 in Viljoen se fokus. Haar slotsom, dat dit ’n hoogtepunt in Winterbach se onlangse werk is, is van die beste nuus wat ek vanjaar op letterkundige gebied gehoor het.
Dit is interessant om te sien hoe Viljoen die roman stelselmatig oopvlek, maar ook net soveel inligting verskaf dat sy nie die roman se geheimenisse verklap nie. Viljoen is al in die verlede daarvan beskuldig dat sy nooit die “uitklophou”, of die evaluering, gee nie. Hierdie keer doen sy dit wel deeglik. Is daar ’n terugbeweeg na die New Citicism te bespeur? Te vroeg om te sê. Die hele resensie is in ’n ander sleutel geskryf; dis die evaulering wat mens aan ’n eeu gelede se metodes laat dink.
Rachelle Greeff se resensie van Lien Botha se Wonderboom (Rapport Boeke) is ook knap hanteer, maar sy begaan myns insiens een groot mistasting – sy wil opsluit Botha se konneksie met Pik Botha, haar pa, by die gesprek insleep. Ek kan nie dink dat Louise Viljoen ooit so iets sou aanvang nie.
Ek geniet Jean Oosthuizen se boekbesprekings as ’n reël, omdat hy nie ’n dweper is nie. Vir Willie Esterhuyse het ek eweneens baie ooghare. Maar albei sal mens maar moet verskoon as jy nie kans sien vir Oosthuizen se bespreking van Esterhuyse se Geagte Jahwe op die oggend ná Japan die Springbokke verneder het nie. Dán sien mens net kans vir iets soos Tobie Wiese en Naspers Lite, en die res gryp jou aandag moeilik vas.
***
Ek het nogal simpatie met Regardt van den Bergh. Om Gert en Dulcie van den Bergh se kind te wees, kon seker nie die maklikste ding onder die son gewees het nie. En om dan met die mooiste vrou in die land te trou …
Dit sal net koerantlesers van sestig en ouer wees wat nog ’n idee het wie Gert en Dulcie was. Die onder sal weet van Jana Ciliers. Albei groepe sal weet dat Regardt van den Bergh hom uit die greep van die sondige lewe losgewikkel het. Sy geloof het sy borswering geword.
Sou hy ’n verhaal hê wat lesers sal verslind? ’n Boek wat met ander outobiografië en biografië van ons era vergelyk kan word?
JB Roux, wat Van den Bergh se Regardt vir Boeke24 resenseer, draai daai idee nek-om met een van die vreemdste put-downs wat ek nog vanjaar gelees het. “Hier is geen aardskuddende onthulings nie” (hoekom dan die boek lees?), maar dis darem ’n “lekkerleesboek”. Nou ja toe. Hoekom mens Roux se ander raad moet volg, naamlik om die nie-aardskuddende boek te koop, sal net hy weet.
Joan Hambidge se bespreking van Perspektief & profiel (Boeke24) is een van haar beste pogings, maar ek was teleurgesteld om in BY te lees dat mens aanlyn meer oor die prosa wat in Perspektief & profiel bespreek word kan lees, maar jy moet waaragtig goed wees om dit op te spoor. Ek is nie goed nie.
Rudolf Stehle roep – moontlik onwillig – die debat oor selfpublikasie op met sy bespreking van Hans Pienaar se Uitoeke/Outcorners (Boeke24). Mens kan aanvoel dat hy Pienaar dikwels die voordeel van die twyfel gee, maar uiteindelik moet hy hom aanspreek oor slordighede wat verhoed kon gewees het as Pienaar ’n ekstra paar oë gehad het wat na die teks gekyk het.
Ek bewonder Pienaar vir sy waagmoed, maar wanneer ’n resensie die draai maak wat hierdie ene maak, gaan dit uiteindelik die hele projek beduiwel. Pienaar se wedervraag sal waarskynlik wees dat geen Suid-Afrikaanse uitgewer sou waag met ’n publikasie van hierdie aard (fotogedigte) en omvang nie, en dat hy dit nie anders sou kon deurvoer nie.
Omslae kry nie dikwels aandag by resensente nie. Daarom is ek bly Deborah Steinmair (Rapport Boeke) praat sonder terughou oor die oninteressante omslag van André Krüger se Komplot. Veral omdat sy dan voortgaan en die inhoud op dieselfde peil plaas as internasionaal gerekende spioenasieromans. Jy weet die boek gaan die koop werd wees – maar jy sou verbygestap het, was dit nie vir die resensie nie.
Martie Retief Meiring raak (ook in Rapport Boeke) slaags met Koos Kombuis se Ver in die wêreld, sushi. Wanneer ’n koerant die geluk tref om ’n resensie uit haar pen te kry, glimlag die godin ekstra bright, omdat sy so spitsvondig reageer op mnr. Kombuis. Dit is die essensie van haar skryfwerk – die leser kom ewe seer onder die indruk van hierdie formidabele intellek as van haar flambojante persoonlikheid.
Hierdie resensie is ’n meestersklas in die kleine.
Comments