top of page
  • Uitmelkbos

NAGBLINDHEID? ‘N LEUEN BELY


Die egpaar Hartzenberg, HvD, Wena de Kock en Carel Weeber

Al my matriekmaats is nou 70 – ek was die baba van die ’57-klas van Volkies, Potchefstroom.

Twee matriekmaats by my verjaardagviering verlede Saterdag was Willem Johannes Hartzenberg (Pretoria) en Carel Lambrecht Weeber (Klerksdorp) – ons klas het mekaar graag windmakerig op ons doopname genoem.

Hulle was saam met my lede van ‘n Volkie-weergawe van ‘n gewilde radioprogram van daardie tyd, Die Mielieblaarklub.

Elke Saterdagaand om agtuur het dit valserig oor die radio opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar ….da-ra-ra-ra…da-ra-ra-ra …” Daarna was daardie gedugte viermanskap ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord oor sake wat die volksgemoed beroer. Ons Volkie-klone was: Oom Mêrtin (Carel Weeber), Oom Gawerjal (Koos van Niekerk, wat hoofseun was), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe). Ons funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus. Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien.

Koos het ontbreek; ons hoofmeisie, Wena Louw, nou De Kock, was wel uit die Strand teenwoordig. Sy was, buiten hoofmeisie, kapteine van die netbalspan, kapteine van atletiekspan, en wat nog. Sy is die ouma wat ek ken met die mooiste bene.

Willem Hartzenberg, beroemd/berug as die regter wat Wouter Basson vrygespreek het, was loshande ons Dux-leerling, maar het die rol van donkie in ‘n opvoering van Ali Baba en die 40 diewe net-net voor die uwe se neus weggeraap. Willem, sy vrou, Irna (wat in 1958 aan Volkiesuin matriek was), die uwe en ‘n meisie, Marie Burger, het een vakansie met H. se pa se begeerlike 1957-Ford uit die verre-Wes-Transvaal opgeruk Klerksdorp toe om te gaan fliek. Terug, dring Willie en Irries aan ek moet bestuur, want hulle wou agter sit. Ek kan nie dink die nasionale voorsitster van die Vrouefederasie van SA was ook so stuitig nie!

Ek het geweier en beweer ek ly aan nagblindheid. Ek het gelieg! Die eintlike rede was: ek was te bang om aan die Ford se wiel te vat.

In die Volkie-era het ek oor die onderdeur begin loer. Ook oor die grensdraad. Ek en Annette van Wyk (nou Annette Visser van Worcester) het in vakansietye ure oor die ogiesdraad tussen ons erwe in Meiringspark, Klerksdorp, staan en gesels. Oor koeitjies en kalfies – darem nie oor blommetjies en bytjies nie, of hoe Annette?

Volgende: Kollegetehuis, Tukkies

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page